Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-11-01 Reporter: Adriaan Basson

Hof Versoek vir Shaik-Saak op Radio

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-11-01

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban -Twee geselsradiostasies - Cape Talk en 702 - en e.tv wil toestemming van regter Hilary Squires hê om 'n ekstra mikrofoon in hof A te plaas wat die publiek minstens 'n geleentheid sal gee om na dié hofsaak te luister.

e.tv wil van dié klankgrepe in hul nuusbulletins gebruik.

Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Die staat en die verdediging staan die radio-aansoek - soos met e.tv se eerste aansoek om die verhoor oor televisie uit te saai - teen.

Squires het drie weke gelede bevind dat TV-kameras getuies kan intimideer, wat tot 'n onregverdige verhoor kan lei.

Hy het die deur egter oopgelos vir e.tv en die SAUK om die slotbetoë van die staat en Shaik se regspan regstreeks uit te saai.

Vandag se hofverrigtinge word aan die radio-aansoek afgestaan. Kruisondervraging van mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, deur adv. Francois van Zyl, SC, namens Shaik, sal môre begin.

Van der Walt het vir sewe dae oor 'n forensiese ondersoek getuig wat KPMG in opdrag van die Nasionale Vervolgingsgesag gedoen het.

Dié getuienis vorm die middelpunt van die staat se saak om Shaik se beweerde korrupte verhouding met Zuma te bewys, asook dat Shaik bedrog gepleeg het deur

R1,2 miljoen se betalings aan en/of namens Zuma teen die boeke van die Nkobi-groep af te skryf.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.