Hofdeur Klap Toe vir TV |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-12 |
Reporter |
Adriaan
Basson, Dries Liebenberg, |
Web Link |
Durban - Regter Hilary Squires het Dinsdag 'n deur oopgelos dat die Shaik-verhoor op radio uitgesaai kan word nadat hy e.tv se aansoek om dit op televisie te wys, verwerp het.
Squires het in sy uitspraak gesê die media kan hom weer toespreek as hul "probleme" opgelos is. TV-kameras kan getuies intimideer en tot 'n onregverdige verhoor lei, het die regter bevind.
Die SAUK het Maandag saam met e.tv aansoek gedoen om die verhoor regstreeks op televisie én radio uit te saai, maar sy aansoek was te laat. Die openbare uitsaaier se regsverteenwoordigers kon nie Dinsdagaand bevestig watter stappe hulle gaan doen nie, maar het by navraag gesê dat 'n sterk moontlikheid op radio-uitsendings bestaan.
"Ons moet nog instruksies kry. Indien ons 'n nuwe aansoek bring, sal dit binnekort moet wees," het mnr. Pierre Smith, die SAUK se prokureur, gesê.
Me. Kitten Matthews, die SAUK se hoofregsadviseur, sou die openbare uitsaaier Dinsdagaand voorlig en 'n besluit oor of die SAUK so 'n aansoek sal rig, word Woensdagoggend verwag.
Mnr. Schabir Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog wat verband hou met die regering se omstrede wapenkontrak. Die verhoor is weens e.tv se aansoek met twee dae vertraag.
Die regter het Dinsdag "in belang van geregtigheid geweier dat videokameras die strafregtelike verhoor, wat Woensdag begin, opneem.
Volgens hom kan dit getuies intimideer en die regverdigheid van die verhoor en geldigheid van die uitspraak in gedrang bring.
Nadat hy e.tv se aansoek van die hand gewys het en 'n aantal joernaliste reeds begin het om die hofsaal te verlaat, het Squires 'n olyftak uitgesteek: As die media sy probleme om kameras in die hof kan oplos, sal hy weer 'n aansoek oorweeg.
'n Ontstelde mnr. Dan Rosengarten, e.tv se prokureur, het gesê hulle gaan "ten minste" probeer om die slotbetoë van die staat en Shaik se regspanne en Squires se uitspraak regstreeks op televisie uit te saai.
In sy uitspraak het Squires die regte van spraakvryheid (waarop mediavryheid berus), getuies se reg tot privaatheid as individue, die beskuldigde se reg op 'n regverdige verhoor en die beginsel dat 'n verhoor in 'n ope hof moet geskied, teen mekaar opgeweeg.
Die gevaar is te groot dat die teenwoordigheid van TV-kameras in die hof getuies kan intimideer en dat hulle nie vryelik sal getuig nie, het Squires bevind.
In hofsaal A, wat reeds gepak is deur 'n groot kontingent regslui, sowat 50 joernaliste en lede van die publiek, sal één TV-kamera opsigtelik wees, wat nog te sê van die drie waarvoor e.tv gevra het, het Squires gesê.
"As daar 'n soort projektorkamer soos 'n rolprentteater was waaruit die TV-kameras die verrigtings kon opneem, was dit 'n ander saak."
Mnr. Yunus Shaik, Schabir Shaik se prokureur-broer, het die Shaik-familie by die hof verteenwoordig. Hy was verheug oor Squires se uitspraak en het gesê die regte van 'n beskuldigde is daardeur bevestig. Volgens hom het die Hefer-kommissie hom oortuig dat TV-kameras nie in 'n verhoor hoort nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg, Jan-Jan Joubert en die Beeld.