e.tv Hoor Vandag Oor Shaik-Saak |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-10-12 |
Web Link |
Durban - Suid-Afrikaners sal vanmiddag weet of die Schabir Shaik-verhoor 'n regstreekse televisietreffer soos die Hefer-kommissie se Mac & Mo Show gaan word.
Maar eers sal regter Hillary Squires en twee assessore sterk bewoorde besware van sowel die staat as die verdediging moet verreken.
Squires het gister uitspraak voorbehou in e.tv se aansoek om die verhoor, wat allerweë as een van die belangrikstes in Suid-Afrika beskou word, regstreeks uit te saai.
Hy sal na verwagting vandag om ongeveer 14:15 sê of adv. Gilbert Marcus SC se aansoek namens e.tv suksesvol is. In hoofsaak moet hy die publiek se toegang tot 'n hofsaak van openbare belang opweeg teen die gevolge as die inligting waaroor getuies beskik, nie tot die hof se beskikking kom nie.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se voormalige finansiële adviseur, staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog, waarby Zuma betrek word.
Die aansoek van e.tv het 'n knou gekry toe adv. Guido Penzhorn SC, namens die staat, gesê het sekere staatsgetuies sal weier om teen Shaik te getuig as die verhoor uitgesaai word.
Volgens Penzhorn is dit sonder televisiekameras reeds vir 'n getuie " 'n angsbevange en intimiderende ervaring" om in 'n strafsaak te getuig. "Baie staatsgetuies is reeds onwillig om te getuig. Dit (die regstreekse uitsending) sal getuies verder intimideer."
Volgens Marcus is e.tv se aansoek gebaseer op 'n bepaling in art. 152 van die Strafproseswet wat lui dat verhore in 'n "oop hof" moet plaasvind. Volgens Marcus moet Squires 'n "beleidsbesluit" neem wat "genuanseerd en subtiel" is.
Adv. Nirmal Singh SC, namens Shaik, het TV-uitsendings van strafregtelike verhore as die moderne weergawe van die skandpaal bestempel.
As beelde van getuies se oomblik van swakheid oor en oor op televisie herhaal word, is dit volgens Singh soortgelyk aan die Middeleeuse straf om mense aan 'n skandpaal vas te bind om hulle in die openbaar te verneder.
Singh het die TV-beeld van Hansie Cronjé wat in trane uitbars voor die King-kommissie, wat wedstrydknoeiery in krieket ondersoek het, as voorbeeld gebruik.
Volgens hom is dit 'n voorbeeld van hoe televisie - veral geredigeerde TV-programme - die werklikheid kan verwring.
Naas die reg op spraakvryheid waarop joernaliste staatmaak, het getuies ook 'n reg op privaatheid, het Singh aangevoer. Hy en Penzhorn het betoog dat die uitsending van die Shaik-verhoor die regverdigheid daarvan kan belemmer.
Die verhoor het volgens Penzhorn reeds 'n sterk politieke inslag. As TV-kameras in die hofsaal toegelaat word, sal dit 'n plofbare mengsel wees, het hy gesê.
Die eerste getuie in die Shaik- verhoor sal môre geroep word.
Met erkenning aan Die Burger.