Shaik had Houvas op Zuma - Wilson |
Publication | Beeld |
Date |
2005-02-20 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - 'n "Angstige" adj.pres. Jacob Zuma het 'n Maleisiese sakeman glo tydens 'n ontmoeting met mnr. Schabir Shaik probeer oortuig om Shaik as sy vennoot vir 'n waterfront-ontwikkeling te gebruik.
Dít blyk uit 'n beëdigde verkla ring van mnr. David Wilson, voorheen van die Maleisiese maatskappy Renong, wat in 1996 aan die hoof was van dié maatskappy se bod om die Punt-waterfront hier te ontwikkel.
Wilson se verklaring is vroeër uit die staat se saak teen Shaik gelaat nadat adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, beswaar aangeteken het teen die toelating daarvan as 'n bewysstuk.
Regter Hilary Squires het egter verlede week beslis dié dokument - soos die gekodeerde Franse faks - is toelaatbaar.
Luidens die verklaring het Renong in 1995 met mnr. Mzi Khumalo, voorsitter van die Point Waterfront Company, vergader om die maatskappy se betrokkenheid by dié ontwikkeling te bespreek.
Renong het oorspronklik 'n bemagtigingsooreenkoms met Vulindlela Investments onderteken.
Teen die einde van 1995 het Renong en twee ander konsortiums voorleggings aan die Point Waterfront Company gedoen.
Volgens Wilson is hy 'n dag voor Renong se voorlegging deur Shaik gebel om 'n vergadering by die Nkobi-kantore by te woon.
"Toe ek by die kantore opdaag, was dit duidelik dat die doel van die vergadering was om Renong te probeer intimideer," lui sy verkla ring. Volgens hom het Shaik dit duidelik gemaak dat dit "nie in Renong se belang sal wees om voort te gaan met hul huidige vennote nie".
Teen die einde van 1996 het Wilson vir Zuma, destyds die KwaZulu-Natalse LUR vir finansies en toerisme, en Shaik by Shaik se huis ontmoet.
"Zuma was duidelik ongemaklik gedurende die vergadering," lui Wilson se verklaring. Volgens Wilson is verskeie onderwerpe deur Shaik geopper, waaroor Zuma uitgewei het.
"Hy het voorgestel dat Shaik betrokke behoort te wees by die projek en dit aanhoudend benadruk dat hy 'n goeie vennoot sal wees vir dié werk."
Wilson het die indruk gekry dat Shaik "een of ander houvas" op Zuma het.
Zuma het ook glo genoem dat hy ondersteuning en bystand van Shaik ontvang. "Ek het 'n sterk idee gekry dat die ondersteuning van 'n finansiële aard is," lui die verklaring.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.