Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-11-15 Reporter: Mandy Rossouw Reporter:

DA Vra wat Zuma in Durban Soek

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-11-15

Reporter

Mandy Rossouw

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad - Wat maak adj.pres. Jacob Zuma so gereeld in Durban? Dít is een van die vrae wat die DA in die parlement beantwoord wil hê met die ondersoek wat die party aan die gang gesit het na Zuma se gebruik van die regering se private stralers.

Mnr. Gareth Morgan, DA-LP, het in 'n parlementêre vraag aan die minister van verdediging, mnr. Mosiuoa Lekota, gevra hoeveel binnelandse vlugte per jaar deur die adjunkpresident met dié stralers onderneem word.

Dit het aan die lig gekom dat Zuma - met sy ondersteuningspersoneel - sedert Januarie verlede jaar sowat R11,2 miljoen bestee het aan vlugte in die Falcon 50, die Falcon 900 en die Citation 550, die drie stralers wat vir baie belangrike persone in die regering gebruik word.

Altesaam 73 van die 126 vlugte wat Zuma onderneem het, was na Durban en was meestal net vir 'n dag.

Volgens Morgan kon Zuma die belastingbetaler meer as R5,6 miljoen gespaar het indien hy en sy personeel eerder met vlugte van handelslugdienste gevlieg het - in besigheidsklas, wat hulle sowat R3 000 per persoon sou kos. Die gemiddelde koste per persoon vir vlugte in die private stralers beloop R12 000.

"Ons is baie skepties oor veral die vlugte na Durban," het Morgan gister aan Die Burger gesê. In 'n opvolgvraag sal hy meer besonderhede van die presidensie wil hê oor die sakebesoeke wat die vlugte na Durban so gereeld noodsaak.

"Ons aanvaar die adjunkpresident en andere moet die stralers soms gebruik, maar dit is nie nodig om die belastingbetaler se geld te mors indien daar goedkoper opsies beskikbaar is nie," meen Morgan.

Mnr. Rafeek Shah, DA-woordvoerder vir verdediging, het gister in 'n verklaring gesê 'n hersiening van die proses van vlugte moet gedoen word.

"Die DA sal die portefeuljekomitee oor verdediging vra om die beleid vir die gebruik van die stralers van die Suid-Afrikaanse lugmag te hersien. Dié stralers behoort slegs vir amptelike regeringsake gebruik te word, en dan slegs wanneer handelslugdienste nie beskikbaar is nie. Dit behoort nie gebruik te word vir private sake nie en definitief nie vir partypolitieke besigheid nie," het hy gesê.

Dié onthullings kom in 'n netelige stadium, met die besonderhede van Zuma se verhouding met mnr. Schabir Shaik, Durbanse sakeman en Zuma se finansiële raadgewer, wat in 'n korrupsiesaak in die Durbanse hooggeregshof op die lappe kom.

Geeneen van Zuma se woordvoerders was gister beskikbaar vir kommentaar nie.

Met erkenning aan Mandy Rossouw en Die Burger.