'Zuma was Deel van Informele Proses' |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-11-09 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - Daar was nie ongerymdhede met die aankoop van vier fregatte vir die Suid-Afrikaanse vloot nie, het die hooggeregshof gister hier in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik gehoor.
Dit het egter nie verbete steunwerwery tydens die tenderproses vir die wapenpakket uitgesluit nie.
Die Franse verdedigingsmaatskappy Thomson-CSF is sedert die vroeë jare negentig juis onder die indruk gebring dat hulle hul tot informele beïnvloeding moet wend om sake in Suid-Afrika te doen, het die staat gister aangevoer.
En dit is hier - in 'n geskil tussen Shaik se Nkobi-groep en Thomson, met wie hy in 'n vennootskap getree het - waar adj.pres. Jacob Zuma op die toneel verskyn.
Die staat beweer dat Shaik enersyds tussen 1995 en 2002 vir of namens Zuma sowat R1,2 miljoen betaal het om die private belange van sy Nkobi-groep te bevorder. Andersyds het Shaik en die Thomson-groep Zuma na bewering in 2000 omgekoop om die Franse maatskappy in die wapenondersoek te beskerm.
Adv. Billy Downer SC, hoofaanklaer, het gesę sonder die agtergrond van Thomson se talle gesprekke met Suid-Afrikaanse politici en senior amptenare sal skielike getuienis oor 'n beweerde komplot tussen hulle en Shaik vreemd opval.
Eweneens val dit vreemd op dat Zuma, wat as KwaZulu-Natalse LUR geen rol in die wapenpakket gespeel het nie, ontmoetings met buitelandse sakelui gehad het. "Hierdie agtergrond help die staat om te bewys dat Zuma deel was van 'n informele proses. Dit pas ook in by die scenario waarin Thomson hulself ingewikkel het," het Downer gesę.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.