Kamera, Ligte, Hof-Aksie! |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-08 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert |
Web Link |
In-Diepte
Die hooggeregshof in Durban is 'n pragtige Victoriaanse gebou aan die Victoria-embankement, net langs die hawe en die standbeeld van Dick King "who saved Natal from the Boers".
Hofsaal A, dieselfde plek waar oudminister Magnus Malan 'n paar jaar gelede verhoor en onskuldig bevind is, is die volgende paar weke die gasheer vir een van die belangrikste hofsake in die land se politieke geskiedenis: die twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog teen mnr. Schabir Shaik, 'n flambojante Durbanse sakeman.
Shaik is self nie juis 'n politieke figuur nie, al is hy 'n uitgesproke ANC-ondersteuner. Maar hy is die finansiële adviseur van adj.pres. Jacob Zuma en dáár lê die politieke knoop.
As daar al ooit 'n hofsaak was waar dit lyk of dit gaan om die halsbandjie eerder as die hondjie, blyk dit dié een te wees. Zuma se naam is op byna elke bladsy van die klagstaat en die belangstelling in die saak lê daarin dat Zuma steeds die gunsteling is om pres. Thabo Mbeki in 2009 as staatshoof op te volg.
Gaan dié hofsaak die gebeurtenis wees wat Zuma sink (as dit vir hom skeefloop), of gaan dit sy posisie onaanvegbaar versterk (as sy reputasie herstel word)?
Om die belang van die hofsaak verder uit te lig, kan 'n mens terugverwys na verlede jaar se opspraakwekkende Hefer-kommissie, wat Suid-Afrikaners voor die televisie vasgenael gehou het as die sogenaamde Mac & Mo Show.
Hou in gedagte dat daardie hele drama eintlik 'n onderafdeling was van die hofsaak wat Maandag begin. Dit was 'n poging om die man met die finale verantwoordelikheid vir die ondersoek na Maandag se hofsaak in 'n slegte lig te stel, wat tot die Hefer-kommissie gelei het - 'n weerligafleier van die ware hofsaak in Durban.
Die Hefer-kommissie was soos 'n voorprent; nou kan die hoofprent begin. Dis nog onseker of die hofsaak op televisie uitgesaai sal word, maar e.tv het reeds só 'n versoek gerig.
Die verwagting is dat Maandag gebruik sal word om die spelreëls daar te stel en dat die eerste getuies Dinsdag geroep sal word, as Shaik se regspan nie opnuut vertragingstaktiek inspan nie. Daar is 'n indrukwekkende lys staatsgetuies wat bekendes soos me. Patricia de Lille, OD-leier, insluit. Bespiegeling wil dit hê dat selfs oudpres. Nelson Mandela ook geroep kan word.
Een van die grootste vrae is of Zuma self sal getuig. Ten spyte van sy stellings verlede jaar dat hy graag 'n forum wil hê om sy saak te stel, het hy hom teengesit toe die Hefer-kommissie hom as getuie wou roep.
Die staat gaan hom nie roep nie en die verdediging na verwagting ook nie. Maar sy naam kom oral voor en as die regter meen sy getuienis is noodsaaklik, kan hy hom dagvaar om te getuig. Indien regter Hillary Squires besluit dít is nodig, sal die kwik bykans ondraaglik styg.
Een van die belangrikste dinge om oor hierdie saak te onthou, is dat dit inderdaad Shaik is wat in die beskuldigdebank staan, nie Zuma nie.
Zuma kan nie deur dié hof skuldig bevind word nie.
Die hofsaak in Durban is 'n skaduspel waar een man beskuldig en 'n ander man gemeet word, met die leierskap van die land wat op die horison wink.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en die Beeld.