'Shaik Keer nie Planne vir Skool' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-25 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Volgens mnr. Schabir Shaik het hy niks daarmee te doen gehad dat planne vir 'n ekotoerismeskool in KwaZulu-Natal doodgeloop het nie, het die hooggeregshof Donderdag hier gehoor.
Prof. John Lennon van 'n universiteit in Glasgow, Skotland, het Donderdag getuig Shaik het hom in Februarie 1999 gehelp om 'n brief van Zuma te kry ter ondersteuning van sy plan om 'n toerismeskool in KwaZulu-Natal te begin.
Minder as twee weke later was daar 'n bitsige antwoord van die Nkobi-groep toe Lennon navrae oor die projek na een van sy Suid-Afrikaanse vennote verwys het.
Einde Februarie het Shaik aan mnr. Deva Ponnoosami, Nkobi se agent in Brittanje, geskryf tensy hy 'n antwoord van die akademikus kry, sal hy "Zuma inlig en al die nodige doen om prof. Lennon se vordering te stuit".
Adv. Francois van Zyl (SC), namens die verdediging, het aangevoer Shaik het nooit persoonlik met Lennon kennis gemaak nie, maar het by Zuma van Lennon se planne gehoor.
Hy het dit vreemd gevind dat Zuma 'n spesifieke maatskappy sou aanbeveel en dat die politikus se brief van die Nkobi-kantore aan hom gefaks is. Volgens Shaik het hy bloot een van sy werknemers gestuur om die briewe van steun aan Lennon by Zuma se kantoor te gaan afhaal omdat Nkobi die akademikus se faksbesonderhede gehad het.
Shaik sal getuig sy bitsige reaksie het berus op die misverstand dat Nkobi 'n vennoot in die projek sou wees en dat Thomson-CSF in daardie tyd ook vir Nkobi uit 'n ander projek probeer werk het.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.