Kleurryke Akademikus kan Begin Getuig |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-12 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert |
Web Link |
Durban. - Die slag oor uitsaairegte is gelewer en die eerste getuie in die saak teen mnr. Schabir Shaik kan Woensdagoggend in die Durbanse hooggeregshof geroep word.
Nadat die aanklagte om 10:00 aan Shaik gestel word en hy daarop gepleit het, sal adv. Billy Downer, SC, die staat se saak saamvat en sy eerste getuie roep: Die kleurryke akademikus, sakeman en politikus prof. Themba Sono.
Sono se verbintenis met Shaik wortel in sy voormalige posisie as uitvoerende direkteur van Shaik se maatskappy Nkobi Holdings, wat self as regspersoon in die saak aangekla word.
Sono het in Januarie 1997 uit dié posisie bedank ná 'n stryery met Shaik. Sowat R75 000 was glo betrokke. Hy sal onder meer lig kan werp op gebeure in direksievergaderings van Nkobi Holdings.
In politieke kringe staan Sono, wat eens leier van die DA in die Gautengse wetgewer was, maar deesdae as onderleier in mev. Patricia de Lille se Onafhanklike Demokrate dien, as uiters uitgesproke bekend.
Hy het 'n B.A.-graad en onderwysdiploma aan Unisa behaal voordat 'n meesters- en doktorsgraad in die VSA aan hom toegeken is. Sedertdien was hy skrywer van dosyne boeke en artikels.
Sono was van 1998 tot verlede jaar voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rassebetrekkinge en van 1997 tot 2000 voorsitter van die Vryemarkstigting. Sy akademiese loopbaan van byna 30 jaar het verlede jaar ten einde geloop.
Sono is die geskeide pa van drie kinders. As Downer daarin slaag om hom teen die einde van die dag deur sy getuienis te lei, sal belangstellendes lippe aflek vir die kruisondervraging deur Shaik se regsman, adv. François van Zyl, SC.
Van Zyl word, soos Downer, as 'n meester van kruisondervraging beskou.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en die Beeld.