Publication: Rapport Issued: Date: 2004-11-06 Reporter: Adri Kotze

Kleurvol is Saak oor Shabir nié

 

Publication 

Rapport

Date 2004-11-06

Reporter

Adri Kotze

Web Link

www.news24.com

 

Die Schabir Shaik-verhoor is nou nie juis die Hefer-kommissie nie. Van die spelers is wel weer in die rolverdeling (party, soos adj.pres. Jacob Zuma, in hul afwesigheid), maar ná vier weke van die verhoor was daar nog geen emosionele uitbarstings, tranerige verskonings of dramatiese toegewings nie.

Want hoewel die Shaik-verhoor uiteindelik uiters belangrike politieke implikasies kan hê, is dit in wese "net nog 'n handelsaak", soos een regsverteenwoordiger ná 'n uiters tegniese sessie van kruisondervraging opgemerk het.

Die Hefer-kommissie, wat regstreeks oor televisie gebeeldsend is, het gevloei uit bewerings dat adv. Bulelani Ngcuka, toe nog nasionale direkteur van openbare vervolging, 'n apartheidspioen sou wees. Dié aantyging, wat die kommissie verwerp het, is gedoen te midde van Ngcuka se aankondiging dat daar onder meer 'n prima facie-saak van korrupsie teen Zuma is, maar dat hy nie vervolg gaan word nie.

En hoewel daar nie 'n dag verbygaan dat Zuma se naam nie opduik in die getuienis nie, is dit nou Shaik wat in die beskuldigdebank is op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog. Hy ontken skuld.

Van die hoogtepunte van die Hefer-kommissie was die stryd tussen van die land se top-regsbreine en die flambojante getuienisleier, adv. Kessie Naidu SC, het oornag 'n TV-ster geword met sy silwer hare en elegante sy-dasse.

Naidu is, kleurvolle dasse en al, weer in die hof - maar sy betrokkenheid is beperk tot 'n wakende oog wat hy namens sy kliënt, die wapengroep Thint, hou.

Die stryd nou is tussen nóg 'n man met 'n bos silwer hare, adv. Francois van Zyl SC, wat namens Shaik optree, en die leier van die staat se regspan, adv. Billy Downer SC, wat met nog net 'n paar strepe grys spog.

En dié regstryd in Hof A van die Durbanse hooggeregshof is gedemp, uiters hoflik, maar steeds vlymskerp en kliphard.

In wat allerweë in die hofsaal beskou word as een die hoogtepunte van die "stryd van die breine" wat in die saak verwag kan word, het Van Zyl die afgelope week die sogenaamde bloedhond van forensiese ouditeurs in kruisondervraging geneem.

"Goeiemôre, mnr. Van der Walt," het Van Zyl elke sessie begin.

Omring deur lêers het KPMG se mnr. Johan van der Walt, wie se smaak in dasse wissel van uitspattige oranje tot bedeesde donkerblou, dan met 'n ewe besadigde "goeiemôre" geantwoord.

Die res van sy antwoorde was nie só kort nie, en is gereeld gekwalifiseer met 'n "as ek verder kan verduidelik".

Van Zyl het vroeg in sy kruisondervraging al daarop gesinspeel dat Van der Walt bloot sy verslag opgestel het om die staat se klagstaat te ondersteun en dat hy nie al die dokumente in ag geneem het in die samestelling van sy lywige forensiese verslag nie.

Van der Walt het geantwoord dat sy verslag "heeltemal onafhanklik is". Daar was 152 000 bladsye dokumente in die kluis waarop hy uiteindelik sy bevindings gegrond het en dat hy op grond van sy "ondervinding en professionele oordeel" die dokumente gekies het wat voor die hof dien.

Boonop, het hy aangevoer, sou dit nie sy bevinding in wese verander het nie.

Maar Van Zyl het aangedui dat daar gevalle was waar Zuma geld terugbetaal het wat nie deur Van der Walt in ag geneem is nie. Van der Walt het wel toegegee dat 'n bedrag van R21 000 wat Shaik namens Zuma vir ANC-lidmaatskap betaal het, terugbetaal is. Maar die bedrag is aangedui in die boeke van Shaik se Nkobi Holdings, terwyl dit in sy persoonlike rekening terugbetaal is, het hy teruggekap.

Oor feitlik elke bewysstuk waaroor Van Zyl 'n vraag gestel het, het Van der Walt die dokument in een van die horde lêers opgespoor, dit deurgekyk en dan geantwoord. As die betrokke ondersteunende dokumente nie in die hof was nie, het hy gevra om dit eers ná die sitting te bestudeer en dan daarop te antwoord.

In 'n stadium, in 'n punt oor die datum waarop 'n banktransaksie plaasgevind het, het 'n oënskynlik moedelose Van Zyl hom gekeer met: "Mnr. Van der Walt, dalk praat ons by mekaar verby. Ek bevraagteken dit nie. Vir die verandering stem ek in der waarheid saam met jou."

Die forensiese ouditeur het hom beloon met skaars 'n sweempie van 'n glimlag voordat hy aangegaan het.

En as Van Zyl dieselfde vraag keer op keer herhaal het, het Van der Walt keer op keer volgehou met 'n "soos ek reeds aangetoon het".

In wat beloof het om te ontwikkel tot een van die mees dramatiese wendings, het van Zyl Donderdag 'n dokument ingedien wat na bewering toon daar was 'n leningsooreenkoms tussen Shaik en Zuma.

Downer het opgespring en aangekondig die staat sal die geloofwaardigheid van die dokument van twee bladsye bevraagteken.

Regter Hilary Squires het beslis die staat sal sy kans kry in herondervraging en die dokument toegelaat.

Van der Walt wou die dekbrief sien. Die dokument begin op die tweede bladsy.

Volgens Van Zyl is die dokument in die vertroulike deel van die parlement se bateregister en kon hulle nie toegang daartoe kry nie.

Maar die beloofde drama is nie verder gevoer nie.

En die week se verrigtinge is afgesluit met 'n pynlike proses waarin punt vir punt deur rekeningkundige praktyke en die aandeelhouding van dele van die Nkobi-groep geswoeg is.

Van der Walt se kruisondervraging sal na verwagting nog twee dae duur - en na verwagting sal nóg hy nóg Van Zyl veel bes gee.

Met erkenning aan Adri Kotzé en die Rapport.