Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-19 Reporter: Adriaan Basson Reporter: Dries Liebenberg

Getuienis Oor Kodefaks

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-19

Reporter

Adriaan Basson, Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Woede-uitbarsting het daartoe gelei dat die faks wat adj.pres. Jacob Zuma glo met korrupsie verbind, in die hande van die Skerpioene beland het.

Só is Dinsdag in die Durbanse hooggeregshof in die saak teen mnr. Schabir Shaik getuig.

Me. Susan Delique, voormalige sekretaresse van die wapenmaatskappy Thomson-CSF (Thint), het in die hof vertel van die "gekodeerde faks" wat Zuma by die regering se omstrede wapentransaksie betrek. Haar regstreekse hoof was mnr. Alain Thétard, Thint se direkteur.

Die staat beskou die faks as bewys dat Shaik in Maart 2000 betrokke was by die beweerde omkopery van Zuma teen R500 000 per jaar in ruil vir die beskerming van Thomson-CSF se belange in Suid-Afrika.

Thomson-CSF en Shaik se Nkobi-groep is betrokke by die kontrak om wapenstelsels vir die vloot se nuwe korvette te verskaf.

Delique, 'n stylvolle vrou wat haar getuienis sag gelewer het, het getuig hoe sy 'n maand gelede haar notas en rekenaarskyfies nagegaan en op haar getikte weergawe van die "gekodeerde faks" afgekom het.

Shaik, Zuma en Thétard het na bewering op 10 Maart 2000 in Durban ontmoet waar Zuma glo in kode tot die omkopery ingestem het.

Die faks, met besonderhede oor die ontmoeting en bepalings van die "Zuma-ooreenkoms", is 'n week later deur Thétard aan sy meerderes in Frankryk gestuur.

Daarin word na "JZ" en "S.S." - volgens Delique onderskeidelik Zuma en Shaik - verwys.

Delique het getuig Thétard het die handgeskrewe nota aan haar gegee om te tik en na mnr. Yann de Jomaron, die Thomson-groep se hoof vir verkope in Afrika, en mnr. Jean-Paul Perrier, 'n direkteur van die moedermaatskappy, te faks.

Weens die aard van die faks is sy aangesê om dit met die gekodeerde faksmasjien te stuur om te voorkom dat dit in die verkeerde hande beland.

Aan die einde van Maart 2000 het Thétard glo 'n woede-uitbarsting gehad en Delique het uit vrees vir haar veiligheid artikels op haar lessenaar gegryp en die kantoor haastig verlaat.

Adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, het dit aan Delique gestel dat dit "baie gerieflik" was dat sowel die handgeskrewe nota as die rekenaarskyfie met die getikte weergawe daarop op haar lessenaar gelê het.

Volgens Delique was dit blote toeval.

Sy het kort voor haar bedanking by Thint in April twee ouditeurs van Arthur Andersen oor middagete van die "omkopery" vertel.

Volgens haar is sy weg by Thint omdat sy ontevrede was met haar salaris en met ouditwerk - waarvoor sy nie opgelei is nie - moes help.

Die Skerpioene het haar in Julie 2001 genader as deel van hul wapenondersoek.

Ná 'n ontmoeting met die Skerpioene verlede maand het sy weer haar ou notaboek geraadpleeg, op verwysings na "JZ" afgekom en aan die hand daarvan haar rekenaarskyfies nagegaan.

Met erkenning aan Dries Liebenberg, Adriaan Basson en die Beeld.