Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-04-26 Reporter: Adriaan Basson

Zuma 'kon nie nee sê vir Shaik'

 

Publication 

Die Burger

Date

2005-04-26

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Adj.pres. Jacob Zuma en mnr. Schabir Shaik se "algemene korrupte verhouding" was só erg dat Zuma nie kon weier om in te gryp toe Shaik se deelname aan die regering se omstrede wapentransaksie in gedrang was nie.

Buitendien het Zuma sy grondwetlike pligte verontagsaam deur hom in 'n situasie te bevind waar daar 'n konflik tussen sy amptelike pligte en private belange kon wees.

Só het adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, gister aangevoer op die eerste dag van slotbetoog in die opspraakwekkende Shaik-verhoor.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Downer het gister talle kere na Zuma verwys in sy argument waarom Shaik deur regter Hilary Squires op al drie aanklagte skuldig bevind moet word.

Die nasionale vervolgingsgesag (NV) het in 2003 besluit om Zuma nie te vervolg nie, al bestaan daar 'n prima facie-saak teen hom.

Adv. Bulelani Ngcuka, voormalige direkteur van openbare vervolging, het egter destyds gesê die NV kan beslis weer vervolging oorweeg as nuwe getuienis na vore kom.

Zuma se rol in die Shaik-saak is gister meer as ooit deur Downer beklemtoon met verwysing na hul "algemene korrupte verhouding" deur die jare.

Met verwysing na Zuma se vergadering in 1998 met die base van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF (Thales), het Downer gesê Zuma het geen keuse gehad as om Shaik - sy "geldbron" - te help toe sy deelname aan die wapentransaksie tydelik in die weegskaal was nie.

Ná die vergadering het Shaik weer 'n indirekte aandeelhouer van African Defence Systems (ADS) geword. ADS het die regering se kontrak van R1,3 miljard gekry om gevegsuites vir die vloot se nuwe fregatte te verskaf.

"Mnr. Shaik sou ontstoke gewees het en hy (Zuma) sou sy geldbron in die gedrang geplaas het. Dit is presies wat mnr. Shaik geweet het hy sou kry - mnr. Zuma kon nie nee sê nie."

Volgens Downer het Shaik Zuma betaal om hom te hou in 'n posisie waar hy sy invloed kon gebruik om Shaik se maatskappye te bevorder. Zuma het geweet kontrakte vir Shaik sou hom ook uiteindelik geldelik baat.

Downer het gister die eerste salvo's in die laaste ronde van dié marathon-verhoor gevuur deur die hof te herinner aan sy openingsbetoog waartydens hy die Romeinse digter Virgilius se "ek sing van wapens en 'n man" aangehaal het.

"Ongelukkig blyk dit nou dié heldedig was allesbehalwe heroïes," het Downer gesê.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.