Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-09 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Zuma 'Kontrakberedder'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-09

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Adj.pres. Jacob Zuma het glo ingegryp toe pres. Thabo Mbeki wou "keer" dat mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep voordeel trek uit die regering se wapentransaksie.

Adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, het Dinsdag in die Durbanse hooggeregshof gesê Shaik sal getuig Mbeki het sy Nkobi Investments nie as 'n geskikte swart ekonomiese bemagtigingsvennoot (SEB) beskou nie.

Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële raadgewer, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

As Shaik reg is, het woelinge op die hoogste politieke vlak plaasgevind om die SEB-vennoot van African Defence Systems (ADS) te bepaal - maande voordat die kontrak vir die verskaffing van gevegsuites vir die vloot se nuwe korvette aan ADS toegeken is.

Luidens Shaik se pleitverduideliking is daar op 27 Augustus 1997 tydens 'n gesamentlike raadsvergadering van Thint Holdings en Thint besluit dat Thint, waarin Shaik se Nkobi Investments 'n aandeelhouer is, 51% van die aandele in ADS sou bekom.

Die ander aandeelhouer sou Altech (49%) wees.

Thint is deur die Franse moedermaatskappy "omseil" wat 51% in ADS bekom het.

Volgens Shaik was dit die "direkte breuk" van 'n ooreenkoms met Nkobi Investments.

In sy pleitverduideliking noem Shaik hy het bewus geword Thomson-CSF is deur "senior ANC-amptenare" ingelig sy maatskappy is nie 'n geskikte vennoot om deel te wees van 'n tender vir die verskaffing van militêre toerusting vir die weermag nie.

Dinsdag het Van Zyl in kruisverhoor gesê Mbeki is volgens Shaik die persoon wat nie gedink het Nkobi Investments was 'n geskikte SEB-vennoot nie.

Shaik het hierop gereageer met 'n brief aan Thomson-CSF (Frankryk) waarin hulle aangemoedig word om met Zuma te praat.

Dié brief is glo ook gestuur aan Mbeki en Zuma.

Volgens Van Zyl wou Shaik hê "iemand hoog genoeg in die ANC" moet die SEB-kwessie aanspreek.

Op 9 Junie 1998 het Shaik glo agtergekom sy groep is uitgesluit. Op 2 Julie 1998, terwyl Zuma as KwaZulu-Natalse LUR vir finansies en toerisme op 'n amptelike besoek aan Skotland was, het hy verteenwoordigers van Thomson-CSF saam met Shaik in Londen ontmoet.

Volgens Van Zyl was die doel van hierdie vergadering om "kwessies uit te klaar" oor Nkobi wat kwansuis nie die regte SEB-vennoot is nie.

"Mnr. Shaik sal sê dat as gevolg van hierdie vergadering Thomson-CSF se aandele in ADS oorgeplaas is na Thint," het Van Zyl gesê.

Dit het beteken dat Nkobi Investments, ten spyte van 'n gebrek aan beleggingsgeld, weer 'n indirekte aandeelhouer van ADS was wat op 18 November 1998 die R1,3 miljard-kontrak gekry het vir die verskaffing van gevegsuites vir die vloot se nuwe korvette.

Shaik se Nkobi Investments het deur aandeelhouding in Thint, 'n filiaal van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF, by die wapentransaksie baat gevind.

Thint is 'n 80%-aandeelhouer van ADS. Die ander 20% van ADS se aandele word besit deur 'n ander SEB-vennoot, FBS Holdings.

Nkobi Investments besit 20% van Thint.

Nkobi Investments was een van drie aandeelhouers wat op 22 Mei 1996 'n ooreenkoms aangegaan het om Thint Holding, die Suid-Afrikaanse filiaal van Thomson-CSF, te stig.

Op 17 Julie 1996 is Thint deur Nkobi Investments en Thint Holding gestig.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.