Rekeningkunde by Nkobi Glo 'Kreatief' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-26 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Die finansiële posisie van maatskappye in mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep is deur "kreatiewe rekeningkunde" versterk, terwyl hy agter die rug van sy vennote in die kaartrybewys-projek met 'n Amerikaanse verskaffer onderhandel het.
Uit die beweerde fiktiewe bate van R8,5 miljoen wat op dié manier geskep is, is glo sowat R1,2 miljoen in die 1999/2000-boekjaar afgeskryf.
Naas die aanklagte van korrupsie staan Shaik ook tereg op 'n aanklag van bedrog wat uit dié afskrywing spruit. Die staat beweer die R1,2 miljoen sluit van adj.pres. Jacob Zuma se skuld aan die Nkobi-groep in.
Mnr. Johan van der Walt van KPMG het Dinsdag getuig hoe die finansiële situasie van drie Nkobi-maatskappye - Kobifin, Kobitech en Kobi-IT - in die 1998/99- en 1999/2000-boekjare kunsmatig verbeter is deur drie inskrywings.
Dit is onder meer gedoen deur 'n bate van R3,5 miljoen te skep teen werk wat die Nkobi-groep nog moes kry ingevolge die kaartrybewyskontrak van R263 m.
"Is dit wat 'n mens kreatiewe rekeningkunde sou noem?" wou regter Hilary Squires by Van der Walt weet.
Die KMPG-direkteur het getuig normaalweg sal inkomste uit 'n projek eers in 'n maatskappy se boeke weerspieël word wanneer die geld inbetaal word.
'n Lening is vir dié bedrag eers aan Kobitech uitgemaak en op sy beurt weer aan Kobi-IT, wat in daardie stadium geen sake gedoen het nie.
Terselfdertyd is die waarde van die Nkobi-groep se aandele in Prodiba in die twee boekjare met R8,5 miljoen verhoog, ofskoon dié maatskappy nie die wins gerealiseer het waarop vroeër gehoop is nie. Dié bedrae is in 'n reserwefonds gestort.
Volgens adv. Billy Downer (SC), hoofaankler, is die reserwefonds geskep terwyl Shaik agter die rug van sy vennote in Prodiba met die Amerikaanse maatskappy Symbol Technologies onderhandel het oor 'n moontlike venootskap.
Prodiba is vroeër deur Nkobi, Thomson-CSF en Denel gestig om die kaartrybewys-projek te hanteer waarin hulle vennote is.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.