Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-11-10 Reporter: Willem Jordaan Reporter:

Is die Adjunkpresident Polities Kredietwaardig?

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-11-10

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com

 

Adjunkpresident Jacob Zuma het met "buitensporige uitgawes" ver bo sy persoonlike vermoë geleef.

Dít is die gevolgtrekking van die veelbesproke KPMG-ouditverslag wat nou voor die hof dien in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik, Zuma se boesemvriend en sy persoonlike finansiële raadgewer.

In die ouditverslag word beweer Zuma het talle tjeks uitgeskryf wat deur die bank geweier is, en die bank het sy oortrokke kredietkaart gekanselleer én die adjunkpresident versoek om dit terug te besorg.

Ook kon hy na bewering nie altyd die paaiemente op sy motors betaal nie.

En toe Zuma in Januarie 1999 in Johannesburg in 'n motorongeluk betrokke was, wou sy versekeringsmaatskappy glo nie betaal nie omdat die versekeringskontrak reeds op 10 Julie 1998 beëindig is weens die nie-betaling van aftrekorders. Luidens die ouditverslag was dit vriend Shaik wat uiteindelik die duikklopper se rekening van R20 520 vir skade aan die weeldemotor betaal het.

Ook het die Durbanse hooggeregshof gehoor hoe Shaik by geleentheid inderhaas Nkobi Holdings se kleinkas leeggemaak én R200 uit sy eie beursie geneem en vir Zuma gestuur het nadat die adjunkpresident hom gebel en geld gevra het.

Verder het mnr. Johan van der Walt, 'n direkteur van KPMG, getuig dat die rente wat Zuma maandeliks op sy skuld behoort af te betaal, naastenby sy hele salaris is.

In die algemeen skets die talle bewerings oor teruggestuurde tjeks, wanbetaling, aanmanings en dreigbriewe van finansiële instellings oor sy agterstallige skuld 'n prentjie van 'n adjunkpresident wat ver bo sy vermoë gelewe het.

Uit die getuienis blyk dat Zuma by tye op die randjie van bankrotskap gehuiwer het.

" Die algemene patroon wat vorm aanneem uit 'n ontleding van Zuma se finansiële omstandighede, is dat hy by tye skuld aangegaan het wat hy - op grond van sy terugbetalingsgeskiedenis - nie kon betaal met die middele tot sy beskikking nie," lui die ouditverslag.

"Dit blyk uit die inligting tot ons beskikking dat Zuma in sy persoonlike hoedanigheid nie toegang gehad het tot genoeg geld as 'n werknemer van die Suid-Afrikaanse regering om sy lewenstyl in stand te hou nie en moes staatmaak op geld uit eksterne bronne soos lenings van finansiële instellings, Shaik, derde partye en die Nkobi-groep."

Uiteindelik is Zuma, luidens getuienis, van die finansiële afgrond teruggepluk met betalings van meer as R1,2 miljoen wat namens hom gedoen is.

Dié getuienis moet natuurlik nog deur die hof getoets word, maar Zuma se ondersteuners maak dit reeds af as deel van 'n smeerveldtog teen die adjunkpresident. En selfs al is die bewerings waar, word gesê, kan Zuma se persoonlike finansiële omstandighede geen betrekking hê op sy vermoë om 'n goeie en doeltreffende adjunkpresident te wees nie.

Zuma se ondersteuners wil dus hê hy moet binne en buite die ANC slegs geoordeel word aan die werk wat hy tot dusver as adjunkpresident gedoen het.

Die verdere aantyging wat gewild geword het by Zuma se ondersteuners, is dat die media hom laat misbruik deur allerhande sappige maar nie-relevante skinderstories oor Zuma se geldsake aan 'n honger leserspubliek op te dis. Ongelukkig vir die adjunkpresident en sy ondersteuners is die saak nie so eenvoudig nie.

Die vermoë van openbare ampsbekleërs soos Zuma om hul geldsake doeltreffend te bestuur, het regstreekse implikasies vir die mate waarin hulle met 'n openbare amp vertrou kan word. Dit is immers hul oordeel wat ter sprake kom. En dit is nie net hierdie rubriekskrywer of selfs die media in die algemeen wat só sê nie.

Dit is Suid-Afrika se Grondwet wat so sê.

Ingevolge die hoogste wet in die land kan enige stemgeregtigde burger in die parlement dien. Daar is egter sekere uitsonderings wat onder meer bepaal dat misdadigers wat tot tronkstraf van langer as 'n jaar gevonnis is, en diegene wat deur 'n hof kranksinnig verklaar is, nie in die parlement mag dien nie.

'n Verdere grondwetlike verbod op parlementêre lidmaatskap geld ook vir ongerehabiliteerde insolvente. Omdat die adjunkpresident aangewys moet word uit die gestoeltes van LP's in die Nasionale Vergadering, kan 'n bankrot LP vanselfsprekend nie as adjunkpresident dien nie.

En al is Zuma nog nooit bankrot verklaar nie, kom die vraag tog ter sprake wat sy finansiële status sou wees as dit nie was vir die beweerde betalings wat Shaik en ander namens hom gedoen het nie.

Die ooglopende verband wat die Grondwet skep tussen 'n LP se finansiële status en sy vermoë om as openbare verteenwoordiger te dien, noop die ANC dus om die getuienis voor die Durbanse hooggeregshof te verreken wanneer daar uiteindelik 'n besluit oor die adjunkpresident se toekoms geneem word. Al sê sy ondersteuners wat.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.