Publication: Beeld Issued: Date: 2005-03-06 Reporter: Adriaan Basson

Shaik Kry Kans om te sê oor Wapens

 

Publication 

Beeld

Date

2005-03-06

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Die regering se omstrede wapentransaksie kom vandeesweek onder skoot wanneer mnr. Schabir Shaik vir die eerste keer in die openbaar vrae sal moet beantwoord oor sy rol in die "omkopery" van adj.pres. Jacob Zuma deur 'n Franse wapenfirma.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, het Shaik verlede week in kruisverhoor geneem oor die eerste twee aanklagte teen hom:

Die betalings aan Zuma in ruil vir sy "invloed" en die afskryf van Shaik se leningsrekenings as "ontwikkelingskoste".

Maandag is die groot vis egter aan die hoek - die beweerde omkopery van Zuma deur Thomson-CSF in ruil vir die beskerming van dié maatskappy teen 'n wapenondersoek en die bevordering van hul belange in Suid-Afrika.

Die staat beweer Shaik het hierdie omkopery gereël.

Thomson-CSF (Thint) was die hoof-aandeelhouer in African Defence Systems (ADS), die maatskappy wat laat in 1998 die regering se kontrak gekry het vir die verskaffing van gevegsuites vir die vloot se nuwe korvette.

Shaik het by die wapentransaksie baat gevind deur sy aandeelhouding in Thint.

'n Gekodeerde Franse faks, wat vroeër deur regter Hilary Squires as 'n bewysstuk toegelaat is, is die staat se troefkaart vir hierdie aanklag.

Dit is die enigste dokument wat die "duistere" korrespondensie, in Squires se woorde, tussen Shaik, Zuma en mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van Thomson-CSF (Thint), verklaar.

'n Tydlyn, opgestel deur mnr. Riaan Beekman van KPMG, wys hoe korrespondensie tussen Shaik en Thomson-CSF toegeneem het soos wat 'n ondersoek na die wapentransaksie stoom opgebou het.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.