Publication: Beeld Issued: Date: 2005-02-02 Reporter: Maali Malixole Gwatyu Reporter:

'Laat Vaar Aankoop van Wapens'

 

Publication 

Beeld

Date

2005-02-02

Reporter

Maali-Malixole Gwatyu

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad. - Die geldnood waarin die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag hom bevind, moet as waarskuwing aan die regering dien om sy tweede wapenaankope te kanselleer.

Só sê mnr. Rafeek Shah, DA-woordvoerder vir verdediging.

Volgens hom het sy party gedurig daarop gewys dat die regering se wapenaankope 'n resep vir mislukking is.

Die departement van verdediging het sowat R500 miljoen in die 2005-'06 boekjaar nodig om sy grootste uitdagings die hoof te bied.

In die mediumtermyn-begrotingsraamwerk is net R61 miljoen aan die departement toegeken.

"Ons standpunt is regverdig deur die departement wat toegegee het dat hy nie in staat is om die integrasie van die aangekoopte wapens (op sy huidige begroting) te finansier nie," het Shah gesê.

Volgens Shah is die situasie só "desperaat" dat die departement einde verlede jaar 'n bykomende R120 miljoen tot sy toegekende begroting van R22 miljard van die nasionale tesourie aangevra het om die nuwe wapens in bedryf te stel.

Die DA meen verder die probleme gaan vererger word deur 'n gebrek aan vaardighede in die weermag, aangesien talle hoogs geskoolde militêre personeellede "in die naam van transformasie weggejaag" is.

In die lig van dié probleme, het die DA gesê, moet dit dien as 'n ernstige waarskuwing aan die regering vir sy voorgestelde aankoop van nuwe A400 Airbus-militêre vragvliegtuie ter waarde R8 miljard.

"Dit is duidelik dat Suid-Afrika dit nie kan bekostig nie," het Shah beklemtoon.

Met erkenning aan Maali-Malixole Gwatyu en die Beeld.