Staat Wou Getuie se Lasbrief Opskort |
Publication | Beeld |
Date |
2005-01-31 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Die staat was bereid om 'n uitstaande lasbrief op te skort vir die derde persoon wat na bewering saamgesweer het om adj.pres. Jacob Zuma om te koop as hy teen mnr. Schabir Shaik sou getuig het.
Mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF, het egter hul aanbod van die hand gewys.
Só het adv. Gerda Ferreira, voormalige ondersoekbeampte van die Skerpioene, Maandag in die Durbanse hooggeregshof getuig.
Ferreira, een van die staat se laaste getuies in die korrupsie- en bedrogverhoor van mnr. Schabir Shaik, was nou betrokke met die ondersoek teen Shaik.
Ferreira het Maandag getuig hoe sy in Thomson-CSF se kantore afgekom het op dokumente wat daarop dui dat Shaik, Zuma en Thétard op 11 Maart 2000 in Durban vergader het.
Die staat beweer 'n omkoop-ooreenkoms, waarluidens Zuma R500 000 per jaar sou ontvang vir die beskerming van Thomson-CSF teen 'n wapenondersoek en die bevordering van hul belange in Suid-Afrika, is op hierdie vergadering bespreek.
Adv. Francois van Zyl, SC, namens Shaik, het vroeër gesê Shaik sal ontken dat die omkopery van Zuma ooit bespreek is.
Volgens Ferreira wou die Skerpioene met Thétard praat om inligting oor die Maart-vergadering te kry.
"Die lasbrief vir sy inhegtenisname was egter 'n probleem," het sy getuig.
Indien Thétard na Suid-Afrika sou kom, sou hy op aanklagte van korrupsie en regsverydeling in hegtenis geneem word. Die korrupsie-klag hou verband met die beweerde omkopery van Zuma en die regsverydeling met 'n "valse verklaring" wat Thétard in Suid-Afrika aan die Skerpioene gemaak het.
Daar is toe 'n aanbod aan Thétard gemaak om sy lasbrief op te skort as hy na Suid-Afrika sou kom om teen Shaik te getuig.
"Sy prokureur het laat weet hulle aanvaar nie die aanbod nie en dat Thétard nie bereid was om te getuig nie," het Ferreira gesê.
Thétard het verlede jaar in 'n beëdigde verklaring erken hy was die outeur van die berugte Franse faks. Hy het egter gesê dit was 'n opgefrommelde nota in sy asblik wat hy nooit laat tik het nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.