Kodenaam 'Le Tailleur' |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-10-25 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Was "le tailleur" 'n snyer van kledingstukke of die een wat aanbiedings vir Suid-Afrika se wapenaankope tot 'n kortlys gesny het?
Dié kodenaam het gister telkens opgeduik in korrespondensie en notas van direkteurs van die Franse Thomson-CSF-groep, wat in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik aan die Durbanse hooggeregshof voorgelê is.
Volgens die getuienis van mnr. Johan van der Walt, direkteur van KMPG se forensiese-ouditafdeling, kan dié Franse woord óf as "kleremaker" vertaal word óf as "snyer", soos die persoon wat die kortlys van verskaffers vir die wapenpakket opgestel het. Volgens die vroeëre getuienis van mev. Marion Marais het mnr. Alain Thétard, direkteur van Thomson-CSF Holdings, op dié manier verwys na mnr. Youssuf Surtee. Surtee is die skepper van oudpres. Nelson Mandela se bekende hemde.
In gekodeerde fakse aan hul hoofde in Frankryk het sowel Thétard as sy voorganger by die Thomson-maatskappy in Suid-Afrika, mnr. Pierre Moynot, Surtee by name genoem in korrespondensie wat aan die hof voorgelê is.
Moynot het op 23 September 1997 geskryf: " . . . Youssuf Surtee blyk inderdaad nader aan Mandela te wees as wat my eerste faks laat blyk het."
Luidens handgeskrewe notas waarop die Skerpioene in Thomson-kantore beslag gelê het, verseker "le tailleur" dat die "Shabir (sic) Shaik-ooreenkoms sal groei".
Die notas meld ook dat die Franse geheime diens die "owerhede" in kennis gestel het dat Thomson met "le tailleur" saamwerk.
Die handskrif in die notas blyk volgens Van der Walt ooreen te stem met Thétard s'n.
Drie maande later het Thétard 'n twee uur lange vergadering met mnr. Chippy Shaik, die beskuldigde se broer en destydse hoof van die weermag se wapenaankope, gehad.
Uit korrespondensie blyk dit dat Chippy Shaik uit eie beweging "le tailleur" se naam genoem het "om te wys dat hy baie van ons kontakte hier weet".
Chippy Shaik het na bewering die Franse gewaarsku oor hul verbintenis met "le tailleur" omdat hy net met Mandela kontak gehad het, wat ná die 1999-verkiesing uit die politiek sou tree.
Die identiteit van "le tailleur" is onbelangrik vir die staat, het adv. Billy Downer, hoofaanklaer, aangevoer.
Wat vir die staat van groter belang is, is dat Thomson dit nodig geag het om mense na aan invloedrykes te kontak om sy kanse te bevorder om uiteindelik aan die wapenpakket deel te hê.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.