Leon het Vrae oor Mbeki se Betrokkenheid |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-12 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert |
Web Link |
Durban. - Pres. Thabo Mbeki se betrokkenheid by die regering se wapentransaksie het Dinsdag daartoe gelei dat mnr. Tony Leon, DA-leier, hom by die Shaik-saak betrek het.
Leon het tydens die opening van 'n DA-kantoor in die Kaapse woonbuurt Bothasig gesê Mbeki was deurgaans by die wapentransaksie betrokke.
"As oudpres. Nelson Mandela se adjunk was hy voorsitter van die komitee wat die kabinet se goedkeuring van die transaksie gestuur het.
"In 2001 het hy die Heath-eenheid gekeer om die kwessie verder te ondersoek en verlede jaar het hy geweier om die Hefer-kommissie se mandaat uit te brei.
"Wat is die volle verhaal van sy betrokkenheid by die wapentransaksie?" het Leon gesê.
Mnr. Bheki Khumalo, presidensiële woordvoerder, het by navraag aan Willem Jordaan gesê "dis die soort onsin wat nie 'n antwoord verdien nie".
Leon meen verskeie vrae oor die wapentransaksie is nog onbeantwoord en dat die parlement, die Shaik-verhoor en ander forums lig daarop kan werp.
Hieronder tel of adj.pres. Jacob Zuma ooit vir mnr. Alain Thètard, Suid-Afrikaanse hoof van die wapenmaatskappy Thint, ontmoet het.
In die konsep-klagstaat het die staat beweer dat Thètard 'n faks aan sy Franse moedermaatskappy gestuur het waarvolgens Zuma R500 000 per jaar sou ontvang wanneer 'n maatskappy waarin Thint 'n belang het, dividende uitbetaal danksy wapenkontrakte.
Die aanklagte teen Thint is Maandag laat vaar en dit is onduidelik of die staat beplan om die faks te gebruik in die saak teen Shaik, Zuma se finansiële raadgewer.
Zuma het onlangs in antwoord op 'n parlementêre vraag van me. Raenette Taljaard, DA-LP, gesê hy kan nie onthou of hy al vir Thètard ontmoet het nie.
Leon het opnuut die regering se standpunt bevraagteken dat die kabinet nie verantwoordelik gehou kan word vir korrupsie in die subkontrakte van die transaksie nie, omdat slegs die primêre kontrakte deur die kabinet hanteer is.
Hy meen ook daar is baie vrae te stel oor of die regering se militêre aankope gepas is, veral omdat dit so duur is.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en die Beeld.