Publication: Beeld Issued: Date: 2005-04-15 Reporter:

Zuma Loop Steeds Voor in Leierstryd

 

Publication 

Beeld

Date

2005-04-15

Web Link

www.news24.com

 

Skandaal oor geld doen min aan sy gewildheid

Baie mense vra hul deesdae af hoekom adj.pres. Jacob Zu ma steeds so 'n sterk kandidaat is om pres. Thabo Mbeki op te volg, ten spyte van alles wat in die Shaik-verhoor geopenbaar word.

In daardie verhoor in die Durbanse hooggeregshof moet regter Hilary Squires (waarskynlik teen Junie) onder meer uitspraak lewer of mnr. Schabir Shaik deel was van 'n poging om Zuma om te koop in 'n ooreenkoms verwant aan die regering se wapentransaksie.

Ons sal met verdrag sien wat die hof daaroor beslis, maar wat reeds as gemene saak in die hof uitgekom het, is die mate waartoe Zuma deur Shaik aan die neus rondgelei is wat geldsake betref.

Die beroerde aard van Zuma se geldsake (veral gegewe sy stewige inkomste!) was opvallend. Drie vrae hieroor: Is dit sy onkunde oor geld wat so bedenklik is? Is dit sy oordeel oor mense wat soveel te wense oorlaat? Maar veral: Watter een van die twee opsies is erger?

Mense verkies om op te sien na 'n leier wat hulle kan vertrou en kan respekteer. Voorwaar moet vrae gestel word oor Zuma se geskiktheid om die land te lei gegewe die omvang van nie net die bewerings teen hom nie, maar ook dít waaroor almal saamstem, naamlik sy finansiële onkunde en sy afhanklikheid van (om dit sagkens te stel) omstrede mense!

En tog is hy nie net 'n aanspraakmaker op die troon nie. Hoewel sy posisie die afgelope jaar baie verswak het en veral die tekens van onkundigheid daartoe lei dat 'n toenemene aantal ANC-lede 'n ander leier soek, is hy 'n gemaklike voorloper in die wedloop.

Hoekom is dit die geval? Die ant woord is taamlik ingewikkeld en kom daarop neer dat hy vir verskeie gemarginaliseerde groepe in die ANC hoop op verbetering verteenwoordig omdat hy die antitese van Mbeki is.

Dít was weer duidelik die afgelope naweek op die SAKP se kongres in Durban. In sy boek Thabo Mbeki and the battle for the soul of the ANC skryf William Mervin Gumede die SAKP en Cosatu is soos radelose mense wat maar die Lotto speel in die hoop dat dit hulle uit hul ellende sal verlos.

Maar terug na die SAKP en na Zuma se ondersteuners. Verlede naweek het opnuut getoon hoe min impak die SAKP op regeringsbeleid het. Keer op keer het sprekers geldige punte gemaak oor werkverlies en oor fiskale beleid.

Telkens is woes kritiek gelewer op die regering se "versaking van armes", maar dis duidelik dat die SAKP te swak is om op sy eie bene te staan. Redding moet dus van binne die regerende alliansie kom.

Zuma het die afgelope paar jaar kontak behou met groepe soos die SAKP en Cosatu terwyl Mbeki hulle aktief uitgetrap en gemarginaliseer het. Wie anders sou die desperate linkses steun, al het hy ook wat gedoen met sy eie geldsake?

Dis teen dié agtergrond dat dr. Blade Nzimande van die SAKP se stellings die naweek verstaan moet word dat Zuma " 'n goeie vriend is en dat mense moet ophou om hom in die rug te probeer steek".

Die tweede punt is dat Zuma reeds soveel staatsfunksies behartig. Hy is leier van regeringsake in die parlement en hoof van die morele herlewingsveldtog (ja, ja, dis ironies). Verder is hy voorsitter van die nasionale vigsraad en hanteer hy ons betrokkenheid by die vredesproses in Burundi. Hy is dus die prominentste ná Mbeki en mense is aan hom gewoond.

Derdens het hy merkwaardige charisma. Hy het 'n fenomenale humorsin en as spreker die ondefinieerbare common touch. As jy met hom gesels, kom hy baie redelik oor. En omdat hy (anders as Mbeki) so gereeld tussen die massa is, ervaar groot getalle mense hom as 'n nice mens .

Laastens is dit belangrik watter opsies daar buiten Zuma in die ANC is om die land te lei. 'n Mens het tans 'n redelike idee van Zuma se swakhede. Gaan Zuma se teenstander die ondersoek van die geraamtes in sy of haar kas oorleef?

Dit is belangrik dat mense die meriete van die teenstander (indien enige) ook verreken en nie net dink enige alternatief is goed nie.

Die punt hier is nie dat 'n mens dink Zuma is 'n geskikte presidentskandidaat nie - volstrek nie! Dis net om te probeer verduidelik wat sy sterk punte in die ANC is en aan te toon dat hy inderdaad sterk punte het.

Squires se uitspraak in die Shaik- saak kan rigtend wees. Word Zuma gë?mpliseer, sal daar groot druk op Mbeki wees om hom af te dank. Kom Zuma skotvry daarvan af, sal dit baie moeilik wees om sy opmars na die presidentskap te stuit.

Hoe dit ook al eindig, die opvolgdebat gaan ons politiek die volgende paar jaar oorheers!

Met erkenning aan die Beeld.