Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-10-27 Reporter: Adriaan Basson

Mandela-Tjek Gaan Glo vir Shaik se Skuld

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-10-27

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Betaling van ongeveer R1 miljoen deur oudpres. Nelson Mandela aan adj.pres. Jacob Zuma is glo deur mnr. Schabir Shaik gebruik om sy sukkelende maatskappye se skuld te delg.

Só het die ouditeursfirma KPMG bevind in sy forensiese ondersoek na Shaik se sakebelange en sy betalings aan Zuma.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die hooggeregshof hier tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Mnr. Johan van der Walt, direkteur van KPMG, het gister getuig hoe Shaik die bank opdrag gegee het om R900 000 van Mandela se aanvanklike betaling van R2 miljoen aan Zuma, na die rekening van Floryn Investments, waarin Shaik 'n 100%-belang het, oor te plaas.

Dit is nog onduidelik waarom Mandela die geld aan Zuma betaal het. Die naam van mnr. Ismail Ayob, Mandela se prokureur, verskyn wel op die staat se getuielys en daar word verwag dat hy meer lig op dié betaling sal werp.

In sy ondersoek het KPMG die geldspoor van die R2 miljoen-betaling gevolg wat Mandela op 2 Oktober 2000 uit sy persoonlike bankrekening na dié van Zuma gemaak het.

Nedbank het glo in opdrag van Mandela die tjek in Zuma se Absa-tjekrekening inbetaal. Mandela het agterop geteken by die woorde "Pay the account of Jacob Zuma".

Volgens die KPMG-verslag is 'n tjek vir R1 miljoen ten gunste van die Jacob Zuma Education Trust op 17 Oktober 2000, dieselfde dag waarop die R2 miljoen gedeponeer is, aangevra.

Dit is in die rekening van die KwaZulu-Natal RDP Education Trust inbetaal en later na 'n onbekende Absa-rekening oorgeplaas. Van der Walt het gesê hy "neem aan" die geld is gebruik "waarvoor dit bedoel was".

Op 18 Oktober 2000 het Shaik Absa glo per faks beveel om R900 000 uit Zuma se rekening na dié van Floryn Investments oor te betaal. Op 3 November 2000 is 'n verdere oorplasing van R300 000 uit Zuma se rekening na Kobitech, 'n filiaal van Shaik se Nkobi Holdings, gedoen.

Volgens die verslag was Kobitech vóór dié betaling R763 535,67 in die rooi.

Op 10 November 2000 is 'n betaling van R42 500 uit Zuma se rekening aan Ditz Inc. gemaak en op 17 November 2000 is 'n verdere R563 634,24 in die rekening van Floryn Investments inbetaal.

Verdere betalings is uit Floryn Investments se rekening aan Kobitech en Kobitech Transport Systems gemaak.

Luidens die verslag beteken dit R718 131 van die R900 000 wat oorspronklik uit Zuma se rekening aan Shaik oorbetaal is, is gebruik om skuld te delg. R146 820 was 'n "belegging".

Volgens Van der Walt was die R100 000 van die Mandela-betaling wat in Zuma se rekening oorgebly het, net-net genoeg om sy skuld by die bank te delg. Zuma was blykbaar nie bewus van die geld wat Shaik uit sy rekening laat oorbetaal het nie. Op 6 Desember 2000 het Zuma glo 'n tjek van R1 miljoen aan die Development Africa Trust uitgemaak wat die volgende dag persoonlik deur Shaik gestop is.

Op 'n vraag van regter Hilary Squires waarom die Mandela-betaling relevant in die Shaik-verhoor is, het Van der Walt gesê: "Dit word relevant in my ontleding van Nkandla."

Nkandla is 'n klein dorpie in Zoeloeland waar Zuma 'n tradisionele woning laat bou het. Dié woning is glo gefinansier met die "omkoopgeld" wat hy ontvang het. Die staat beweer dat Shaik die "omkoopgeld" gereël het en dus skuldig is aan korrupsie.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.