Mbeki 'Beskou Shaik nie as Geskikte Bemagtigingsvennoot' |
Publication | Die Burger |
Date | 2005-01-31 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Adj.pres. Jacob Zuma het glo ingegryp toe pres. Thabo Mbeki wou "verhoed" dat mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep voordeel trek uit die regering se wapentransaksie.
Adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, het gister in die Durbanse hooggeregshof gesê Shaik sal getuig Mbeki het sy Nkobi Investments nie as 'n geskikte swart- ekonomiese bemagtigingsvennoot (SEB) beskou nie.
Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
As Shaik reg is, het woelinge op die hoogste politieke vlak plaasgevind om die SEB-vennoot van African Defence Systems (ADS) te bepaal - maande voordat die kontrak vir die verskaffing van geveg-suites vir die vloot se nuwe fregatte aan ADS toegeken is.
Van Zyl het mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, in kruisverhoor geneem oor bevindings in KPMG se verslag oor Shaik en Zuma se betrokkenheid by die omstrede wapentransaksie.
Shaik het deur Nkobi Investments uit die wapentransaksie baat gevind deur aandeelhouding in Thint, 'n filiaal van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF, wat 'n 80%-aandeelhouer van ADS is.
Nkobi Investments was een van drie aandeelhouers wat op 22 Mei 1996 'n ooreenkoms aangegaan het om Thint Holding, die Suid-Afrikaanse filiaal van Thomson-CSF, te stig.
Op 17 Julie 1996 het Nkobi Investments en Thint Holding nóg 'n Suid-Afrikaanse maatskappy - Thint - gestig.
Luidens Shaik se pleitverduideliking is daar op 27 Augustus 1997 op 'n gesamentlike raadsvergadering van Thint Holding en Thint besluit dat Thint 51% in ADS sou bekom.
Die ander aandeelhouer sou Altech (49%) wees.
Thint is egter deur die Franse moedermaatskappy "omseil" wat 51% in ADS bekom het.
In sy pleitverduideliking noem Shaik hy het bewus geword daarvan dat Thomson-CSF deur "senior ANC-amptenare" ingelig is dat sy maatskappy nie 'n geskikte vennoot is nie.
Gister het Van Zyl gesê volgens Shaik is Mbeki dié persoon.
Op 17 Maart 1998 het Shaik in 'n brief aan mnr. Jean-Paul Perrier van Thomson-CSF (Frankryk) geskryf hy kan sy kwellings oor Nkobi Investments met Zuma bespreek.
Dié brief is glo ook gestuur aan Mbeki en Zuma.
Op 9 Junie 1998 het Shaik glo daarvan bewus geword dat sy groep uitgesluit is. Op 2 Julie 1998, terwyl Zuma as KwaZulu-Natalse LUR vir finansies en toerisme op 'n ampsbesoek aan Skotland was, het hy verteenwoordigers van Thomson-CSF saam met Shaik in Londen ontmoet.
Volgens Van Zyl was die doel van hierdie vergadering om "kwessies uit te klaar" oor Nkobi.
"Mnr. Shaik sal sê dat as 'n gevolg van hierdie vergadering, Thomson-CSF se aandele in ADS oorgeplaas is na Thint," het Van Zyl gesê.
Dit het beteken dat Nkobi Investments, ten spyte van 'n gebrek aan beleggingsgeld, weer 'n indirekte aandeelhouer van ADS was.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.