Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-01-11 Reporter: Willem Jordaan Reporter:

Mbeki Gevra vir Kommissie oor Wapens

 

Publication 

Die Burger

Date

2005-01-11

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad. - 'n Amptelike versoek dat pres. Thabo Mbeki 'n kommissie van ondersoek aanstel ná bewerings van ongerymdhede in die regering se wapenkontrak, het die presidensie gister bereik.

Mnr. Eddie Trent, DA-woordvoerder oor openbare rekeninge, het in 'n verklaring gesê die versoek is per hand by die presidensie afgelewer. Mbeki se woordvoerder, mnr. Bheki Khumalo, het verlede week gesê die president sal enige amptelike versoek oorweeg.

"Ernstige vrae hang oor die koppe van die ouditeur-generaal (OG) en die president ná berigte in die media," het Trent gesê.

"Dié berigte, waarluidens die president en senior ministers glo potensiële verleenthede weens beweerde ongerymdhede en grondliggende foute uit die OG se voorlopige verslag verwyder het, is verdere bewys dat omstredenheid rondom die wapenkontrak nie gaan verdwyn nie."

Volgens Trent dui die mediaberigte daarop dat die OG, ten spyte van sy ontkennings, gedwing was om bes te gee onder politieke druk van die regering en Mbeki.

In die berigte word ook beweer dat Mbeki self elke bewering van ongerymdhede in die wapenkontrak weerlê het. Indien dít waar is, sal dit volgens Trent beteken dat die geloofwaardigheid van die OG heeltemal vernietig is.

"Bowendien is regstreekse inmenging van die president in dít wat veronderstel was om 'n onafhanklike ondersoek te wees, 'n uiters ernstige bewering waaroor daar dringend opgetree moet word. Slegs wanneer hierdie verslae behoorlik en deursigtig deur 'n regterlike kommissie ondersoek is, sal die wolk van verdenking oor die OG se kop verdwyn."

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.