'Meerderes' sê R1,2 m. Moet Af |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-22 |
Reporter |
Adriaan Basson, Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Hy het nie vrae gevra nie en dit bloot in opdrag van sy "meerderes" gedoen.
Só het mnr. Anthony Gibb, 'n geoktrooieerde rekenmeester, Maandag in die hooggeregshof getuig oor die afskryf van R1,2 miljoen se lenings as ontwikkelingskoste vir 'n kaartrybewyskontrak in die boeke van mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep.
Shaik, finansiële raadgewer van adj.pres. Jacob Zuma, staan onder meer tereg op 'n bedrogklag in verband met dié inskrywings in die Nkobi-boeke. Die afskrywing in 1999 het Shaik se persoonlike-leningsrekening van sowat R736 000 ingesluit en betalings ten bate van Zuma behels.
In die bedrogklag fokus die staat op 'n rits inskrywings: Die waardasie van Nkobi se toekomstige werkopdragte uit 'n kaartrybewys-kontrak, die opteken van 'n groot deel van Shaik se salaris as 'n lening en die uiteindelike afskryf van lenings as "ontwikkelingskoste" vir die rybewyskontrak.
Gibb, destyds 'n leerlingrekenmeester by die ouditeursfirma David Strachan & Tayler, het getuig hy het dié inskrywings in opdrag van sy "meerderes", mnre. Ahmed Paruk of Paul Gering, gedoen. Dit was nadat hy die konsep- finansiële state opgestel het.
"Ek het dit wat ek moes doen na die beste van my vermoë gedoen en volgens algemeen aanvaarde boekhoudingspraktyk.
"As die vennote besluit het om die afskrywing te doen, was dit nie reg nie en was dit nie aanvaarde boekhoudingpraktyk nie," het Gibb gesê. Hy het gereken die vennote het hierdie inskrywings met Shaik bespreek.
Gibb het gesê die leerlingrekenmeesters het Nkobi as 'n "omstrede" nuwe kliënt gesien vanweë die groep se politieke verbintenisse.
Hy het toegegee dat daar nagelaat is om die inhoud van Shaik se lenings na te gaan en vas te stel of dié skuld ingevorder kan word.
Gibb het ook nie notas in die jaarstate aangebring wat daarop dui dat die waardasie van die werkopdragte en die R1,2 miljoen-afskrywing ná die sluiting van die boekjaar in Februarie 1999 gedoen is nie.
Shaik voer aan dat die ouditeurs glad nie hierdie inskrywings met hom bespreek het nie en dat hy nie kennis gedra het van hierdie "fundamentele fout" nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en die Beeld.