Zuma en Shaik se Vriendskap het Mettertyd Heel Verander, Hoor Hof |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-11-03 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Adj.pres. Jacob Zuma se vriendskapsverhouding met mnr. Schabir Shaik het mettertyd in 'n "ander dier" verander.
Só het mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, gister in die Durbanse hooggeregshof getuig waar Shaik tereg staan op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, het Van der Walt kruisondervra oor geld wat volgens Van Zyl deel was van Zuma se terugbetalings aan Shaik.
In sy oorspronklike verslag het Van der Walt gemeld dat hy net twee terugbetalings van R10 000 aan Shaik kon opspoor, maar in 'n bylae tot die lywige KPMG-verslag word 'n deposito van R38 563,16 deur Zuma in Proconsult se bankrekening gemeld. Proconsult is 'n filiaal van Shaik se Nkobi Holdings.
Volgens Van der Walt is dié bedrag nie onder terugbetalings in sy verslag gemeld nie omdat hy dit eers ná die afhandeling van sy verslag opgespoor het.
Op die vraag waarvoor hierdie betaling was, het Van der Walt gesê dit kon 'n terugbetaling deur Zuma aan Shaik, 'n gewone betaling aan Shaik of "vir 'n ander doel" gewees het.
Volgens Van der Walt is die betalings nie vreemd nie, want "enige verhouding kan mettertyd verander".
Shaik en/of die Nkobi-groep se betalings aan Zuma - die staat beweer dit is sowat R1,2 miljoen - kon oorspronklik deel van 'n "vriendskapsverhouding" gewees het.
"Maar ek het bevind die verhouding het van 'n vriendskapsverhouding verander in 'n 'ander dier', waar 'n mens nie die moontlikheid van wedersydse finansiële voordeel kan uitsluit nie."
In sy pleitverduideliking beweer Shaik sy verhouding met Zuma was in die hoedanigheid as vriend en adviseur. Daar was niks sinisters aan sy betalings aan of namens Zuma nie.
Oor die doel van die R250 000 wat die wapenmaatskappy Thomson-CSF glo deur Kobitech ('n filiaal van Nkobi Holdings) aan Development Africa betaal het, het Van der Walt gister vasgestaan by sy verduideliking van vroeër.
Dit maak nie saak of die geld gebruik is om vir Zuma se Nkandla-woning of vir die opknapping van 'n koninklike paleis by Nongoma in Zoeloeland te betaal nie.
Op die ou end was dit 'n gedeeltelike delging van Zuma se skuld van R1 miljoen aan Development Africa wat spruit uit 'n betaling van R1 miljoen deur oudpres. Nelson Mandela aan Zuma om te gebruik "vir die tradisionele leiers van KwaZulu-Natal".
Die staat beweer hierdie geld is deur Shaik gebruik om sy maatskappye se skuld te delg.
Van Zyl het eergister dokumente aan die hof gewys wat daarop dui dat die R250 000 deur Development Africa bestee is aan die paleis en nie die Nkandla-ontwikkeling soos wat die KPMG-verslag beweer nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.