'Niemand wil Bulelani Ngcuka se Pos hê' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-15 |
Reporter |
Philip de Bruin |
Web Link |
Niemand wil klaarblyklik Suid-Afrika se nuwe nasionale vervolger word nie.
Sedert adv. Bulelani Ngcuka in Julie as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) bedank het, is wyd gegis oor sy opvolger.
Maar nou, byna vier maande later, het pres. Thabo Mbeki steeds nie Ngcuka se opvolger aangewys nie.
'n Senior amptenaar in die departement van justisie sê Maandag die probleem is dat almal wat as geskikte kandidate vir die pos oorweeg is, nie juis daarin belangstel nie.
"Die omstredenheid wat die bedanking van adv. Ngcuka voorafgegaan het, het van die mense wat as sy opvolger oorweeg is, laat besluit dat hulle nie vir die werk kans sien nie. Hulle sê deur die bank dat hulle opgewasse is vir 'n warm stoel, maar dat hulle nooit besef het adv. Ngcuka se stoel is só warm nie.
"Dit was tot dusver dus 'n geval van: 'Dankie, maar nee dankie'. Nou het die departement sy visier begin rig op mense buite die departement, maar selfs daar word probleme ondervind. Al wat ek in hierdie stadium beslis weet is dat 'n opvolger nog nie gekies is nie."
Die amptenaar sê nie een van die adjunkhoofde van die NV - mnr. Willie Hofmeyr, advv. Jan Henning en Leonard Macarthy en dr. Silas Ramaite (waarnemende hoof van die NV) - word tans "ernstig oorweeg nie".
Met erkenning aan Philip de Bruin en die Beeld.