'Zuma het nié Aandele' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-08 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Adj.pres. Jacob Zuma was nooit direk óf indirek 'n aandeelhouer in die Nkobi-groep nie, sê mnr. Schabir Shaik.
Adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, het Maandag in die hooggeregshof gesê die feit dat Zuma se naam op 'n oorspronklike beplanningsdokument van die Nkobi-groep van maatskappye verskyn, beteken nie hy is of was 'n aandeelhouer nie.
Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog. Hy ontken skuld.
Mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, het vroeër getuig oor 'n notaboek waarop beslag gelê is in Nkobi se Durban-kantoor met diagramme oor aandeelhouding in die groep.
Hierin word Zuma en die ANC as "genomineerde aandeelhouers" gemeld. Volgens Van der Walt beteken dit moontlik iemand anders het aandele namens Zuma en/of die ANC besit.
Volgens Van Zyl ontken Shaik dit ten sterkste, waarop Van der Walt gereageer het deur te sê Zuma was dalk nie 'n aandeelhouer nie, "maar hy is soos een behandel".
Van der Walt is Maandag vir die vyfde dag deur Van Zyl in kruisverhoor geneem.
Die staat beweer Shaik en/of die Nkobi-groep het tussen 1995 en 2002 ongeveer R1,2 miljoen se betalings aan of namens Zuma gemaak. Dit was na bewering bindgeld om Zuma se invloed te "koop".
Een van KPMG se ander bevindings was dat Shaik namens die ANC na Maleisië gestuur is om besigheidsmoontlikhede en -modelle te ondersoek.
Volgens Van Zyl het Shaik lank voor sy besoeke namens die ANC kontak met die Renong-maatskappy gehad en was hy in 1994 al 'n agent vir hulle in Suid-Afrika.
Luidens Shaik se pleitverduideliking is hy aangestel om saam met mnr. Thomas Titus Nkobi, destydse tesourier-generaal van die ANC, Maleisië, Pakistan en die Verenigde Arabiese Emirate te besoek om geld vir die party in te samel.
Ná Nkobi se dood het mnr. Makhenkesi Stofile, tans minister van sport en ontspanning, Nkobi se posisie beklee.
Van Zyl het verlede week aangevoer dat Shaik van voorneme was om projekte saam met spesifiek Renong in Suid-Afrika aan te pak waarvan die ANC sou deel wees. Hierdie idee het gesneuwel op 'n vergadering van ANC-ringkoppe op 9 Mei 1995.
Luidens 'n brief wat deur Van Zyl by die hof ingedien is, het Stofile aan Shaik geskryf die ANC het besluit om nie met die Maleisiese planne waarvoor Nkobi hom gebruik het, voort te gaan nie.
Hy het geskryf dat Shaik met die "vorige" verkiesing gehelp het maar geen posisie in die ANC beklee nie en dat sy (Stofile se) kommunikasie met Shaik tot 'n einde moet kom.
"Dit, comrade, gooi al ons planne vir Maleisië en elders heeltemal oorboord. Ek betreur hierdie verskriklike ongemaklikheid en persoonlike vernedering vir my.
"Maar dit is hoe dit is.
"As 'n gedisiplineerde lid van die organisasie moet ek by hierdie besluit staan," lui die brief aan Shaik.
Stofile gaan voort deur te sê hy hoop hul persoonlike verhouding word nie deur die ANC-besluit geraak nie en "dalk vind ons steeds 'n manier om daaruit baat te vind".
As 'n geswore ANC-ondersteuner het Shaik egter besluit om steeds finansiële bydraes tot die ANC te maak, het Van Zyl gesê.
Donasies is deur Shaik se Floryn Investments aan die regerende party betaal.
Van der Walt het die vreemd gevind dat Shaik se donasies aan die ANC nie "reguit" deur hom betaal kon word nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.