'Skenkings aan ANC' nie Aangeteken |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-11-09 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - Sowat R347 000 se "skenkings aan die ANC" wat in 1999 deur mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep afgeskryf is, is volgens getuienis nie aangeteken in die boeke van 'n maatskappy waardeur sulke skenkings gekanaliseer sou word nie.
Shaik het tot daardie stadium sowat R750 000 van sy eie geld in die groep belę en hy moes die afwesigheid van só 'n wesenlike bedrag in Floryn Investments se boeke opgemerk het, het adv. Johan van der Walt van KPMG Dinsdag getuig.
Shaik staan onder meer tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en vals boekhouding.
Die R347 000 wat in Kobifin se boeke aangeteken is as lenings aan Floryn Investments, was deel van sowat R1,2 miljoen wat in 1999 as ontwikkelingskoste vir die kaartrybewys-kontrak afgeskryf is.
Die staat beweer sowat R200 000 se betalings ten bate van adj.pres. Jacob Zuma is in die proses ook in die Nkobi-groep se boeke gewis.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.