Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-10-25 Reporter: Liezel de Lange Reporter: Sonja Carstens

Zuma 'Kan Nie Nou Al Veroordeel Word'

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-10-25

Reporter

Liezel de Lange, Sonja Carstens

Web Link

www.news24.com

 

Johannesburg - 'n Kundige het gister gewaarsku dat bespiegelings oor beweerde meineed en die misleiding van die parlement deur adj.pres. Jacob Zuma voortydig is.

Het Zuma meineed gepleeg in 'n hofaansoek om die omstrede faks te bekom oor 'n beweerde ontmoeting tussen hom, mnr. Schabir Shaik en die Franse wapenhandelaar mnr. Alain Thétard? Het Zuma ook die parlement mislei?

Dié vrae kan eers beantwoord word as die Durbanse hooggeregshof bevind dat daar waarskynlik só 'n ontmoeting was én dat die faks toelaatbare getuienis is, het 'n kenner ná aan die ondersoek gesê. Dit beteken die staat moet ook vir die hofbevinding wag voordat hy kan bepaal of daar meriete is om Zuma weens bedrog of meineed te vervolg. Die staat het verlede week 'n handgeskrewe én getikte weergawe van 'n gekodeerde faks, wat Zuma met beweerde korrupsie verbind, ingedien in die korrupsiesaak teen Shaik.

Luidens die faks het Shaik, Zuma en Thétard op 11 Maart 1999 in Durban vergader. Onder die bewerings is dat Zuma sou instem om R500 000 per jaar te ontvang van ADS, sodra ADS begin dividende uitbetaal as hulle 'n wapenkontrak van die regering kry.

Die Durbanse hof sal later beslis of die faks toelaatbare getuienis is.

Adv. Francois van Zyl SC, van Shaik se regspan, het verlede week in die hof gesê daar was 'n vergadering tussen Shaik, Zuma en Thétard, maar dat dit op 10 Maart plaasgevind het.

Zuma het verlede jaar 'n aansoek in die Pretoriase hooggeregshof ingedien om die gekodeerde faks te bekom omdat dit hom met beweerde korrupsie in die wapenkontrak verbind. "Ek was nie by die vergadering waarna dit (die faks) klaarblyklik verwys nie," lui Zuma se beëdigde verklaring wat in Pretoria ingedien is. Zuma gaan verder deur te sê dat 'n verklaring oor die faks daarop dui dat die vergadering in 'n hotelkamer in Durban sou plaasgevind het.

Zuma het in sy aansoek gehamer op die bewerings oor die hotelkamer. Die faks wat verlede week in Durban ingedien is, verwys nie na 'n hotelkamer nie.

Intussen wil die DA Zuma weer hieroor in die parlement uitvra.

Me. Raenette Taljaard, DA-LP, het Zuma verlede jaar gevra of hy en Shaik Thétard op 11 Maart 2000 ontmoet het.

Zuma het geantwoord dat hy Thétard nie op 11 Maart ontmoet het nie - wat ingevolge Van Zyl se stellings waar is.

Volgens die kundige is die stellings deur Shaik se regspan nog nie in die hof getoets nie.

Met erkenning aan Liezel de Lange, Sonja Carstens en Die Burger.