Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-15 Reporter: Dries Liebenberg

'Shaik nie 'n Sakeman'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-15

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Mnr. Schabir Shaik is nie werklik 'n sakeman nie, maar 'n "politieke kapitalis".

Só het prof. Themba Sono, OD-onderleier, Vrydag in die Durbanse hooggeregshof getuig waar sy voormalige kollega op korrupsieklagte teregstaan.

Shaik is volgens Sono afhanklik van die regering en die land se politieke leiers vir sy sakebedrywighede.

Die staat beweer Shaik het oor minstens sewe jaar betalings aan adj.pres. Jacob Zuma gedoen in ruil vir sy invloed.

Die opspraakwekkendste bewering is dat Shaik gehelp het om Zuma om te koop sodat hy 'n Franse verdedigingsmaatskappy in die ondersoek na die regering se wapenaankope sou beskerm.

Die manier waarop Shaik glo aanmekaar politici se name gebruik het in gesprekke met moontlike sakevennote, het Sono dwars in die krop gesteek, het die hof Vrydag gehoor.

"Ek het soos 'n bedrieër gevoel. Dit was soos wat die Amerikaners 'n one-two punch noem. Dit het glad nie professioneel geklink nie."

Ofskoon hy aanvanklik gereken het dat hy as uitvoerende direkteur kan help om Nkobi Holdings op 'n meer professionele grondslag te plaas, het Sono volgens sy getuienis in 1997 bedank weens 'n paar kwessies wat hom teen die bors gestuit het.

Een daarvan was dat Shaik se Nkobi-groep nie werklik 'n swartbemagtigingsmaatskappy was nie. "Ek het tot die slotsom gekom dat Nkobi Holdings 'n middel was om Schabir Shaik te verryk."

Die verskil tussen Nkobi en ander swartbemagtigingsmaatskappye waarmee internasionale beleggers gesprek gevoer het, was volgens Sono die politieke invloed waaroor Shaik gesinspeel het hy beskik.

Politici roer 'n verskeidenheid sake met mekaar aan in informele gesprekke. Op dié manier kan 'n politikus 'n goeie woordjie vir byvoorbeeld 'n sakeman doen, het Sono gesê.

Dít gebeur dikwels en daar is geen rekords van sulke gesprekke nie, het hy bygevoeg. "Skoor, die staande komitee vir openbare rekenings (van die parlement) waarin ek dien, bekyk byna weekliks tenders waaroor daar vraagtekens hang."

In die Nkobi-groep is bedryfsbesluite volgens Sono "beslis nie in raadskamers geneem nie".

"Die besluite is elders geneem, wáár weet ek nie."

Die internasionale maatskappye waarmee Nkobi gepraat het, het volgens Sono nie belang gestel in swart bemagtiging nie, maar in die swart mense wat vir hulle deure kon oopmaak.

In dié opsig was hy as uitvoerende direkteur van Nkobi Holdings bloot 'n "gehuurde swart vel".

Adv. François van Zyl, namens die beskuldigde, het dit aan Sono gestel dat Shaik nie spyt was oor sy bedanking by Nkobi nie.

Die verdediging voer aan dat Sono bande met Leboni Technologies van mnr. Fanie Hattingh gesmee het terwyl hy by Nkobi gewerk het. Sono het ná sy bedanking by Nkobi aangesluit by Leboni, wat later 'n IT-kontrak by die polisie gekry het.

Sono het getuig hy is deur Shaik aangesê om van die "lastige" Hattingh ontslae te raak. Hy het by Leboni aangesluit toe Hattingh hom ná sy bedanking weer genader het.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.