Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-19 Reporter: Adriaan Basson

Voormalige Assistent 'het Dele nie Verstaan'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-19

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Mnr. Schabir Shaik se voormalige assistent het dele van 'n vergadering met die wapenmaatskappy Thales op Mauritius reg verstaan en ander dele glad nie.

Só het adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, Dinsdag in die Durbanse hooggeregshof gesê aan die einde van sy kruisondervraging van me. Bianca Singh, die jong vrou wat Shaik in 1996 as sekretaresse aangestel het nadat hy haar in 'n plaaslike pizza-restaurant ontmoet het.

Singh het Maandag getuig haar ontnugtering met Shaik het gekom tydens 'n besoek aan Thales se kantore in Mauritius. In 'n vergadering met onder andere mnr. Alain Thétard, Thales (Thint) se Suider-Afrikaanse hoof, het Shaik glo 'n lêr met koerantberigte oor die wapentransaksie voorgelê.

"As die Heath-ondersoekeenheid voortgaan, is daar moeilikheid en as 'n sekere ANC-amptenaar sy mond oopmaak, gaan ek in groot moeilikheid wees," het Shaik glo gesê.

Volgens Singh het Shaik gepraat van "krisisbestuur".

Toe Shaik sien sy doen aantekeninge, het hy glo gesê: "Ek hoop nie jy hou notule hiervan nie."

Hy en die Thales-mans het haar glo kort hierna gevra om die vergadering te verlaat.

Van Zyl het Dinsdag gesê Shaik vertel 'n ander verhaal: Ná 'n "algemene vergadering" oor die Nkobi-groep en Thales se sakebelange het die mans hul agterdog oor ander wapenmaatskappye uitgespreek wat by die regering se wapentransaksie betrokke is.

Die verwysing na die Heath-ondersoekeenheid en die ANC-amptenaar was glo met betrekking tot "een van die ander (wapen)maatskappye" wat probleme sou hê.

"My kliënt (Shaik) sê dat jy dit deels reg en deels verkeerd verstaan het," het Van Zyl gesê.

Volgens Singh het sy getuig oor "dit wat ek gesien het".

Van Zyl het ook ontken dat Shaik vir adj.pres. Jacob Zuma gebel het ná 'n "benoude" oproep van sy broer Chippy, vermoedelik oor die wapentransaksie.

Singh het getuig sy kon hoor dat Shaik vir Zuma sê Chippy is onder druk en dat hulle sy hulp nodig het.

Volgens Van Zyl was Zuma ten tyde van die beweerde oproep die LUR vir finansies en toerisme in KwaZulu-Natal en nie by magte om die wapentransaksie te bë?nvloed nie. Adv. Billy Downer, SC, namens die staat, het gesê Van Zyl kan dit nie as 'n feit stel nie.

Van Zyl het Singh nie in kruisondervraging geneem oor haar bewering dat daar 'n "insident van persoonlike aard" tussen haar en Shaik in Mauritius plaasgevind en dat dit tot haar bedanking gelei het nie.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.