Nkobi-Groep Kon Zuma Nie Betaal |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-28 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep kon nie die betalings van ongeveer R1,2 miljoen aan adj.pres. Jacob Zuma bekostig nie en was in stadiums byna bankrot daaroor.
Dit is die bevinding van die ouditeursfirma KPMG wat in opdrag van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) Shaik se sakebelange ondersoek het.
Aanklagte een (korrupsie) en twee (bedrog) teen Shaik hou verband met die betalings van ongeveer R1,2 miljoen wat deur Shaik en/of die Nkobi-groep bestee is op Zuma se lopende uitgawes.
KPMG het bevind dat die betalings aan Zuma 'n "materiële impak" op die Nkobi-groep se kontantvloei gehad het.
Die groep se senior bestuurders moes glo daagliks die kontantvloei met 'n vergrootglas dophou en het meestal weens oortrokke fasiliteite, wat namens Kobitech ('n filiaal van Nkobi Holdings) aangegaan is, oorleef.
Luidens KPMG se verslag kon Nkobi genoeg kontant gehad het as die Zuma-betalings nie gemaak is nie.
Shaik is op 23 Mei 2001 as 'n private kliënt van Absa aanvaar nadat sy oorspronklike aansoek om spesiale behandeling afgekeur is. KPMG het bevind Shaik is, volgens Absa se aantekeninge, as 'n private kliënt aanvaar omdat hy Zuma se finansiële adviseur is. Op 27 Julie 2001 is Shaik egter deur die bank as 'n hoë risiko-kliënt met geen "tasbare sekuriteit" nie geïdentifiseer.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.