Forensiese Oudit kan Nog Lig op Saak Werp |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-20 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - 'n Lywige forensiese oudit wat die Skerpioene van KPMG aangevra het in hulle wapenondersoek, kom vandag (Donderdag) in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik aan die beurt.
Die staat en verdediging se regspanne het Woensdagmddag koppe bymekaar begin sit oor watter dele van die verslag betwis word sodat die verhoor bespoedig kan word.
Regter Hilary Squires het adv. Billy Downer, hoofaanklaer, en adv. François van Zyl, vir Shaik, gistermiddag aangesê om teen vandag 10:00 daarmee klaar te wees. Dis dán wanneer mnr. Johan van der Walt van KMPG in Johannesburg in die getuiebank sal gaan staan.
Die aanklagte teen Shaik en tien van sy maatskappye behels nie net bewerings van korrupsie en bedrog oor 'n tydperk van se we jaar nie, maar ook geldwassery en oortredings van die Maatskappywet, belastingontduiking en vals boekhouding.
Dié finansiële raadgewer van Zuma ontken skuld op al die aanklagte.
Downer het verlede week in sy openingsrede dit die staat ten doel gestel om te bewys dat die R1,29 miljoen wat Shaik en sy maatskappye tussen 1995 en 2002 aan Zuma betaal het, geen sakesin gemaak het nie.
Die staat voer aan dié betalings was effektiewelik bindgeld aan Zuma sodat hy Shaik se private sakebelange sou bevorder.
Ofskoon Shaik nie die betalings betwis nie, gaan hy volgens Van Zyl aanvoer hy het betalings namens of op versoek van Zuma gedoen nadat die politikus hom gevra het om sy geldsake te hanteer.
Shaik het in sy pleitverduideliking bygevoeg van die betalings was eintlik geld wat Nkobi-maatskappye aan Zuma geleen het.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.