Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-20 Reporter: Dries Liebenberg

Notas Glo Nooit Gehou

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-20

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - 'n Geheimsinnige mens met 'n kwaai humeur.

Dít is die prentjie wat staatsgetuies die afgelope twee dae van mnr. Alain Thétard in die Durbanse hooggeregshof geskilder het in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik.

Thétard, 'n direkteur van die Franse groep Thomson-CSF, is een van die sleutelfigure in die staat se bewerings van omkopery waarby adj.pres. Jacob Zuma betrek word.

Thétard het dikwels kodename gebruik, het mev. Marion Marais gister getuig oor die man vir wie sy in 1999 as sekretaresse gewerk het.

Een van dié kodename was le tailleur (die kleremaker), wat verwys het na mnr. Youssuf Surtee, wat oudpres. Nelson Mandela se bekende hemde maak.

Handgeskrewe notas wat getik en gefaks moes word, is nooit gehou nie en veral nie in die snippermandjie gegooi nie, het Marais getuig. Dit het Thétard volgens haar woedend gemaak as notas in snippermandjies gegooi is.

Thétard het vroeër in 'n beedigde verklaring gesê die handgeskrewe dokument waarop 'n "gekodeerde faks" oor die omkoopooreenkoms met Zuma glo berus, was losstaande notas wat hy in die snippermandjie gegooi het.

Marais het getuig dat Thétard daarop aangedring het dat dokumente soos handgeskrewe notas wat getik en gefaks moes word, versnipper word.

Thétard het haar ook opdrag gegee om nie korrespondensie op haar rekenaar se hardeskyf te stoor nie, maar eerder op 'n disket wat saans in 'n brandkas toegesluit moes word.

Sommige dokumente wou Thétard self bewaar en hy het 'n brandkas in sy kantoor gehad.

Sy het einde Desember 1999 bedank weens Théatrd se humeur.

Die dag toe sy haar bedankingsbrief ingehandig het, was sy só senuagtig dat sy 'n manlike kollega gevra het om in die kantoor te bly, het Marais getuig. Dit was nadat Thétard haar by geleentheid glo met sleutels gegooi het.

Mev. Susan Delique, Marais se opvolger, het getuig sy het weens Thétard se humeur vir haar veiligheid gevrees toe sy in April 2000 haar bedankingsbrief ingedien het.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.