Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-16 Reporter: Dries Liebenberg Reporter:

'Regverdigheid Belangriker as Nuuskierigheid'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-16

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Radio- en televisiestasies se aansoek dat klankopnames van die Schabir Shaik-korrupsieverhoor toegelaat word, is Dinsdag in die hooggeregshof met koste van die hand gewys.

Die reg tot 'n regverdige verhoor en die belang van regspleging weeg swaarder as luisteraars se nuuskierigheid om getuies se stemme te hoor, het regter Hilary Squires in sy uitspraak gesê.

Sowel die staat as die verdediging het aangevoer die wete dat hul getuienis landwyd uitgesaai sal word, kan mense onwillig maak om te getuig of nie onbevange die waarheid in die getuiebank te vertel nie.

Hierteenoor word die SAUK, e.tv, 702 Talk Radio en Cape Talk se argument oor die openbare belang van dié saak, waarin adj.pres. Jacob Zuma by beweerde korrupsie betrek word, volgens Squires weerspreek deur die feite.

Die publiek se bywoning van die verhoor het algaande afgeneem en dui óf daarop dat mense nie belangstel nie óf dat die mediadekking aan hul behoeftes voldoen. Ofskoon Squires aanvaar dat verslaggewers van die elektroniese media 'n reg het om hul mikrofone na die hof te bring, moet dit teen die reg tot 'n regverdige verhoor en getuies se reg tot privaatheid opgeweeg word.

Die regter het die kostebevel teen die radio- en TV-stasies gemaak omdat hulle gewag het totdat die verhoor onderweg is om 'n dringende aansoek in te dien.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.