Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-02-05 Reporter: Adriaan Basson

Faks in Frans 'Dui op Omkopery in Shaik-Saak'

 

Publication 

Die Burger

Date 2005-02-05

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Gekodeerde Franse faks is die staat se enigste bewyswáárom mnr. Schabir Shaik, adj.pres. Jacob Zuma en mnr. Alain Thétard "saamgesweer" het.

Só het adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, gister in die Durbanse hooggeregshof aangevoer in sy betoog waarom regter Hilary Squires die berugte Franse faks, waarvan Thétard die outeur was, as 'n bewysstuk in Shaik se verhoor moet aanvaar.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Downer het gister die vloer geopen vir 'n verwoede woordestryd tussen hom en adv. Francois van Zyl SC, Shaik se regsverteenwoordiger, oor die toelaatbaarheid van sekere dokumente in die hofsaak.

Hy het begin deur die dokumente te noem wat die Shaik-kamp teenstaan: Die Franse faks, 'n verslag van die wapenfirma Thomson-CSF, Thétard se 2000-dagboek wat 'n vergadering met hom en Zuma aandui, ander dokumente waarop beslag gelê is by Thomson-CSF (Thales) se Mauritius-kantoor en 'n e-pos van Thomson-CSF (Thint) se ouditeurs.

"Dit is uitsonderlik dat daar in hierdie saak, waar duisende dokumente reeds ingehandig is, só min dokumente is wat betwis word," het Downer gesê.

Volgens Downer is die Franse faks 'n verklaring deur 'n mede - samesweerder wat op uitvoering dui.

In die faks, wat glo deur Thétard aan sy hoofde in Parys gestuur is, bevestig hy dat Zuma die omkoopgeld aanvaar het en bereid is om teen R500 000 per jaar Thomson-CSF te beskerm teen 'n wapenondersoek en die maatskappy se belange in Suid-Afrika te bevorder.

"Shaik het met ander partye saamgesweer om Zuma om te koop. Die faks dui op die uitvoering daarvan," het Downer gesê.

Volgens Downer is die faks een van 'n aantal skriftelike bewyse wat dui op omkopery.

"Alle partye was deel van die sameswering. Shaik, Zuma en Thétard was almal betrokke - hulle was almal saam daarin.

"Die enigste vraag is waarom. Die beste bewys oor wat die partye gedoen het, is die faks. Dit is die enigste bewys wat verklaar waarom hulle saamgekom het," het Downer aangevoer.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.