Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-03 Reporter: Mandy Rossouw

Zuma 'Ongestoord' oor Berigte

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-03

Reporter

Mandy Rossouw

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Kaapstad. - Adj.pres. Jacob Zuma is "ongestoord" oor berigte van sy "uitgebreide finansiële verhouding" met mnr. Schabir Shaik, sy finansiële raadgewer wat volgende week teregstaan op aanklagte van korrupsie.

Shaik het luidens 'n ondersoek deur die Sunday Times meer as R1,2 m. aan Zuma oorbetaal, maar geen bewyse word aangebied dat hy die geld aan die adjunk-president verskuldig was nie.

Die betalings het blykbaar in Oktober 1995 begin toe Zuma nog die LUR vir ekonomiese sake in KwaZulu-Natal was.

Die laaste betaling wat aan die Sunday Times bekend is, is in September 2002 gedoen.

Me. Lakela Kaunda, Zuma se woordvoerder, het gister volgens Sapa gesê Zuma herhaal sy vorige stelling dat mense wat glo daar is 'n saak teen hom, hul saak in die hof moet bewys en "ophou om 'n smeerveldtog" teen hom te voer.

Volgens haar het Zuma in die laaste jare by herhaling gesê die aantygings is "ongegrond en onwaar".

Die Sunday Times het berig dat die Skerpioene dit selfs oorweeg om oudpres. Nelson Mandela as getuie in die saak te roep. Mandela het Shaik glo by geleentheid gewaarsku om op te hou om die ANC te gebruik vir ander doelwitte.

Luidens die Sunday Times se berig word daar in 'n verslag wat deur die ouditeursfirma KPMG opgestel is, beweer dat verskeie betalings deur Shaik aan Zuma gedoen is wat nie aan hom verskuldig was nie. Die Skerpioene het vier jaar lank aan die verslag gewerk.

Die verslag wys ook dat Shaik vergaderings tussen Zuma en die direkteure van Thomson CSF/Thales (nou Thint) gereël het en dat Shaik se maatskappy, Nkobi Holdings, Zuma verskeie kere uit 'n geldpenarie gehelp het.

Dit is bekend dat Zuma bo sy vermoëns gelewe het en oortrokke bankrekenings gehad het.

Die Sunday Times het ook berig dat Mandela vir Zuma 'n halfmiljoen rand geleen het.

Mnr. Reeves Parsee, Shaik se prokureur, wou gister nie die inligting in die verslag erken of ontken nie.

Me. Patricia de Lille, leier van die Onafhanklike Demokrate (OD), het gister aan Beeld bevestig dat sy gevra is om te getuig.

"My betrokkenheid vloei voort daaruit dat ek die eerste persoon was om beweerde korrupsie rond om die wapenskandaal in die openbare oog te plaas," het sy gesê.

Sy het glo inligting aan die Skerpioene verskaf toe hulle haar vroeër vanjaar gedagvaar het om te getuig. Dié inligting het gelei na verskeie ander persone wat in die saak gë?mpliseer is, het De Lille gesê.

Prof. Temba Sono, OD-leier in Gauteng, het sakebelange in Nkobi gehad en is 'n moontlike getuie.

Volgens De Lille sal "dié wat aan die begin erg walgegooi het" soos mnre. Jeff Radebe, minister van vervoer, Trevor Manuel, minister van finansies, en Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, "nou moet verduidelik".

Die saak teen Shaik begin vandag in Durban voor regter Hillary Squires . Volgens die Sunday Times is meer as 100 getuies van 10 lande gedagvaar om te getuig.

Mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die Skerpioene, het gister gesê die eenheid werk "sonder ophou" om gereed te wees wanneer die saak begin.

Met erkenning aan Mandy Rossouw en die Beeld.