Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-10-10 Reporter: Gert Coetzee

Mense Glo Zuma is Onskuldig

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-10-10

Reporter

Gert Coetzee

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad - Een uit elke drie Suid-Afrikaners meen adj.pres. Jacob Zuma is onskuldig aan bedrog rakende die wapenskandaal, terwyl een uit vyf meen hy kan wel op die een of ander manier met korrupsie verbind word.

Voorts het Zuma se gewildheid in die eerste deel van vanjaar skerp toegeneem.

Dit is bevindings in 'n sesmaandelikse meningspeiling van Markinor wat gister op die vooraand van die aanvang van die Schabir Shaik-hofsaak vandag in Durban bekend gemaak is.

Markinor het in die peiling bevind dat 34% van alle Suid-Afrikaners "sterk oortuig" is daarvan dat aantygings van korrupsie teen Zuma ongegrond is.

Altesame 21% meen hy is skuldig, terwyl die res nie 'n mening gewaag het nie.

Voorts is 35% oortuig daarvan dat die aantygings deel is van 'n poging om Zuma in onguns te bring, terwyl 22% nie hiermee saamstem nie.

Altesame 3 500 Suid-Afrikaners van alle vlakke is in April en Mei vanjaar tuis vir die peiling ondervra.

Hulle is na willekeur gekies.

Luidens die verslag oor die peiling het Zuma se gewildheid in die ses maande sedert November 2003 met 17% toegeneem. In Februarie vanjaar het 57% van alle Suid-Afrikaners gemeen hy vaar "baie goed" of "betreklik goed". In die verslag word daarop gewys dat sy groter gewildheid toe te skryf is aan die geesdrif wat voor die verkiesing van 2004 geheers het.

Nog 'n bevinding is dat 77% van alle swart mense, 44% van bruin mense, 37% Indiërs en 23% wittes Zuma steun.

Intussen het mnr. Tony Leon, DA-leier, eergister in Magoebaskloof gesê as die kabinet ontsteld is oor bespiegelings in die media oor die aantygings teen Zuma, is dit tot daarnatoe. Zuma en die regering kan net hulself daarvoor verkwalik.

Volgens Leon kon Zuma die nasionale vervolgingsgesag vir laster gedagvaar het. "Ook kon pres. Thabo Mbeki die verwysingsterme van die Hefer-kommissie uitgebrei het om die bewerings teen Zuma in te sluit. Hy het dit nie gedoen nie.

"Die adjunk-president kon hom in getuienis aan die Hefer-kommissie van blaam onthef het. Hy het dit nie gedoen nie," het Leon gesê.

Met erkenning aan Gert Coetzee en Die Burger.