Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-17 Reporter: Adriaan Basson Reporter: JanJan Joubert

Nóg Groot Onthullings Oor Shaik

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-17

Reporter

Adriaan Basson, Jan-Jan Joubert

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Geheime getuie sal na verwagting hierdie week een van die staat se troefkaarte wees in die opspraakwekkende verhoor van mnr. Schabir Shaik.

"As jy gedink het hierdie week se onthullings was interessant, moet jy kyk wat kom. Enigeen wat die volgende paar dae misloop, moet sy kop laat lees," het 'n bron na aan die staat se regspan Vrydag gesê.

Verskeie getuies se name is nie op die getuielys nie uit vrees vir intimidasie, het Beeld betroubaar verneem.

Shaik staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.

Daar is verlede week gegis dat 'n sekretaresse - óf die van Shaik óf van mnr. Alain Thétard van die wapenmaatskappy Thint - Maandag teen Shaik, 'n prominente Durbanse sakeman, sal getuig.

Die staat probeer onder meer aantoon dat Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële raadgewer, 'n korrupte verhouding met Zuma gehandhaaf het in 'n poging om staatskontrakte te bekom.

Die ander aanklagte hou verband met R1,28 miljoen se "betalings" aan Zuma deur Shaik se maatskappye wat afgeskryf is en beweerde omkoopgeld van R500 000 per jaar wat die wapenmaatskappy Thomson-CSF aan Zuma sou betaal het. Die omkoopgeld was glo onder meer om hulle te beskerm teen ondersoeke oor die regering se wapentransaksie.

Die felheid van die stryd wat gevoer word tussen adv. Billy Downer, SC, en sy span namens die staat, en adv. Francois van Zyl, SC, namens Shaik, beteken die regspanne vra mekaar geen vrae nie, en die staat laat blyk nie juis die volgorde waarin hy getuies wil roep nie.

Van Zyl, 'n voormalige prokureur-generaal van Wes-Kaapland wat al die regsverteenwoordiger van mnr. Alan Boesak was, het die hele Donderdagmiddag en Vrydagoggend probeer om prof. Themba Sono, OD-onderleier en die staat se eerste getuie, te verstrik in besonderhede oor Shaik se sakebelange.

Van Zyl se verbete pogings het slegs baie antwoorde van "ek weet nie" ontlok.

Sono se pogings om oudmin. Mac Maharaj en koning Goodwill Zwelethini van die Zoeloes by sy getuienis te betrek, is gestuit deur regter Hilary Squires, wat aangevoer het hulle kom nie in die hofstukke ter sprake nie.

Downer het die hof egter versoek dat 'n transkripsie van Sono se oorspronklike ondervraging deur die Skerpioene as bewysstuk ingehandig word.

Sono het glo tydens dié onderhoud gesê Shaik se Nkobi-groep het sowat R200 000 aan die koning betaal in 'n poging om hom van die IVP na die ANC oor te wen, berig Sapa.

Intussen het me. Kitten Matthews, die SAUK se regsadviseur, Sondag by navraag gesê haar span gaan van Dinsdag af volstoom begin werk aan hofstukke wat vra dat die Shaik-verhoor regstreeks op radio uitgesaai word.

Squires het verlede week e.tv se aansoek om die hofverrigtinge regstreeks op televisie uit te saai, van die hand gewys.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson en die Beeld.