Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-03-03 Reporter: Adriaan Basson

'Ek het ook Goed in My', Hoor Hof

 

Publication 

Die Burger

Date 2005-03-03

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - "Ek het ook goed in my, al het ek 'n slegte kant." Só het mnr. Schabir Shaik gister in die Durbanse hooggeregshof gesê nadat adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, Shaik as 'n leuenaar wat nie vertrou kan word nie, aan die hof voorgehou het.

Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

"Hier is 'n man wat sy CV en kwalifikasies vervals, wat sy groep se balansstate vervals - hoe kan ons jou hieroor vertrou?" het Downer gevra met verwysing na Shaik se ontkenning dat hy ooit probeer het om belasting te ontduik.

Belastingontduiking is 'n alternatiewe aanklag teen Shaik en hou verband met die afskrywings van R1,2 miljoen in die boeke van sy Nkobi-groep.

Shaik het Downer aangehaal toe hy vroeër gesê het mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van die Franse wapenfirma Thomson-CSF, is dalk 'n leuenaar, maar dat dit nie beteken hy vertel nooit die waarheid nie.

Downer het Shaik verder daarvan beskuldig dat hy nooit probeer het om presies uit te vind hoeveel geld Zuma hom skuld nie.

Een van die staat se korrupsieklagtes teen Shaik behels dat hy oor die jare R1,2 miljoen se betalings aan of namens Zuma gemaak het in ruil vir die adjunkpresident se invloed. Shaik het vroeër aan die hof gesê hy het in sy maatskappye se boeke onderskei tussen lenings aan Zuma en donasies aan die ANC.

Downer het gister verskeie voorbeelde uitgewys waar uitgawes namens die ANC as lenings aan Zuma in die boeke van die Nkobi-groep aangeteken is.

"Dit alles dui daarop dat jy nooit ernstig was om uit te vind wat die presiese bedrag is wat Zuma jou skuld nie," het Downer gesê.

Volgens Downer het Shaik sy groep se betalings aan die ANC probeer wegsteek omdat sy werknemers nie geweet het waarvoor die maatskappy Floryn Investments gebruik word nie.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.