Opskudding oor Staat se Versoek |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-18 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Die staat het Donderdag vir 'n reuse-opskudding in die Shaik-verhoor gesorg deur te vra dat die getuienis van een van sy eie getuies verwerp word.
Adv. Billy Downer, SC, namens die staat, het regter Hilary Squires in 'n ongewone stap versoek om mev. Brenda Madgwick, 'n voormalige senior Absa-werknemer, se getuienis ingevolge art. 190 van die Strafproseswet as "teenstrydig" te verklaar.
Die staat se versoek is toegestaan.
Mnr. Schabir Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagtes van korrupsie en bedrog.
Madgwick het gister getuig sy het Shaik en Zuma in 2001 afsonderlik "genooi" om kliënte van Absa Private Bank te word, terwyl sy vroeër in 'n verklaring aan die Skerpioene gesê het Shaik het voorgestel dat sy Zuma ook as kliënt nooi.
Die staat wou haar getuienis gebruik om te illustreer hoe Shaik die adjunkpresident se naam gebruik het om sy sakebelange te versterk.
Volgens Madgwick het mnr. Nallie Bosman, voormalige uitvoerende hoof van Absa, Zuma as 'n "strategiese kliënt" gë?dentifiseer en was Zuma én Shaik se name op 'n lys van "invloedryke individue" wat Absa wou werf.
Mnr. John Dwyer, 'n voormalige bestuurder by Absa Private Bank in Durban, het getuig Absa wou nét vir Zuma as 'n kliënt gehad het, maar Zuma en Shaik het as 'n "pakket" gekom en daarom is Shaik ook tot dié bank toegelaat.
Drie Absa-werknemers is gister deur die staat as getuies geroep.
Hul getuienis het 'n algemene beeld geskep dat Absa, ten spyte van Zuma se benarde finansiële posisie, hom as 'n "strategiese" en "invloedryke" kliënt behou het.
Op 'n goedkeuringsbrief waarluidens Zuma op 23 Mei 2001 as 'n private kliënt aanvaar word, het Madgwick as motivering geskryf: "Mnr. Zuma, as adjunkpresident van Suid-Afrika, is 'n invloedryke persoon wat sy ondersteuning van Absa vermeld het - ons benodig swart kliënte."
Dwyer het getuig hy was eers huiwerig om Zuma te aanvaar, maar daar was ten minste 'n belofte van R5 miljoen-pensioengeld wat Zuma in 2004 sou kry.
Die bank het glo "aangeneem" Zuma gaan in 2004 uit die poli tiek tree.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.