Opvolgstryd |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-04 |
Web Link |
Bewerings van korrupsie is weer in die naweekpers teen adj.pres. Jacob Zuma gedoen. Luidens die berigte sal dié bewerings die kern uitmaak van die korrupsie-saak wees wat aanstaande week in KwaZulu-Natal teen mnr. Schabir Shaik, 'n finansiële raadgewer van Zuma, begin.
Geeneen van die bewerings - teen Zuma of Shaik - is nog bewys nie.
Hierdie tweede ronde van openbare bewerings laat die vraag ontstaan of dit nie onder meer ook verband hou met die stryd om pres. Thabo Mbeki op te volg wat klaarblyklik onverwags vroeg begin het nie.
Alles dui daarop dat die eerste skote geklap het toe die ANC in Gauteng sy takke onlangs versoek het om nou al te begin praat oor 'n opvolger.
Tussen die gesprek-versoek en die Zuma-bewerings het mnr. Kgalema Mothlante, sekretaris-generaal van die ANC, in 'n toespraak skerp kritiek uitgespreek teen die wyse waarop swart ekonomiese bemagtiging (SEB) toegepas word.
Sy kritiek was in wese dat 'n handjie vol swart sakelui herhaaldelik verryk word in die naam van ekonomiese bemagtiging terwyl armer swart mense nie veel baat by SEB vind nie.
Mothlante (hy het hoofsaaklik 'n UDF-agtergrond) se toespraak verteenwoordig ook heersende denke in Cosatu en 'n mens kan wonder of dit nie een van die temas stel wat die opvolgstryd gaan kenmerk nie.
Tot dusver was Mbeki se siening van SEB eerder gebou op swart besitneming van korporatiewe mag as die afwenteling van rykdom na die groot massa.
Met erkenning aan die Beeld.