Opvolgvrae in Parlement oor Zuma-Trust nie Toegelaat |
Publication | Beeld |
Date |
2005-03-02 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert |
Web Link |
Kaapstad. - Die wyse waarop adj.pres. Jacob Zuma betrek word by die verhoor van sy finansiële raadgewer, mnr. Schabir Shaik, het Woensdag weer in die parlement kop uitgesteek toe Zuma vrae moes beantwoord oor die Jacob Zuma-onderwystrust.
Dié trust se naam het al 'n paar keer opgeduik in Shaik se verhoor op aanklagte van korrupsie en bedrog in die Durbanse hooggeregshof. Dit is gestig toe Zuma Kwa- Zulu-Natalse LUR vir ekonomiese sake was.
Terwyl die staat beweer dat Shaik, Zuma en die Franse wapenhandelaar mnr. Alain Thétard se beweerde korrupte aktiwiteite op spesifieke vergaderings wasdom bereik het, sê Shaik se regspan dié vergaderings was oor skenkings aan die trust.
Mnr. Alfred Mpontshane, IVP- LP, wou gistermiddag in vraetyd van Zuma weet hoeveel beurse al deur die trust toegeken is en wat die kriteria vir toekennings is. Hy wou ook weet hoe die trust ontstaan het.
Zuma het geantwoord dat die trust gevestig is met diskresionêre fondse tot beskikking van enige KwaZulu-Natalse LUR. Die IVP- strydros dr. Frank Mdlalose is voorsitter van die trust en Zuma die beskermheer.
Hy het gesê die afgelope sewe jaar het 5 000 skoliere en meer as 50 studente voordeel getrek uit die trust, wat gemik is op kinders wat deur die geweld in KwaZulu-Natal hul ouers verloor het.
Dinge het warm geraak toe mnr. Geoff Doidge, ANC-LP en voorsitter van die huis, in 'n ongewone stap nie opvolgvrae wou toelaat nie "omdat die vraag buite die lynfunksie van die adjunkpresident val".
Mnr. Douglas Gibson, DA-hoofsweep, het gesê parlementêre reëls word gebuig om Zuma te pas. Hy het uitgewys dat die trust met belastingbetalersgeld gestig is en daaroor verslag gedoen moet word.
Tydens Zuma se antwoord wou mnr. Ian Davidson, Gautengse DA-leier, in 'n tussenwerpsel weet of Shaik die inligting vir die antwoord verskaf het.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en die Beeld.