Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-11-11 Reporter: Dries Liebenberg Reporter: Adriaan Basson

Dis Ouditeure se Skuld, sê Shaik

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-11-11

Reporter

Dries Liebenberg
Adriaan Bassaon

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Mnr. Schabir Shaik het gister die blaam vir enige beweerde onreëlmatighede in die boeke van sy Nkobi-groep vierkant op die skouers van die groep se rekenmeesters en ouditeure geplaas.

Adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, het sy kruisondervraging van mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, saamgevat deur Shaik se pleit te herhaal dat hy nóóit enigiemand wou omkoop, bedrieg of besteel nie.

Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële raadgewer, staan in die hooggeregshof hier tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Van Zyl het ook 'n heel ander finansiële prentjie van die Nkobi-groep en Zuma aan die hof voorgehou.

Zuma is sover Shaik weet, nou wel in 'n posisie om geld wat hy sedert 1995 van die Nkobi-groep ontvang het, terug te betaal wanneer hy 'n pensioen-uitbetaling kry.

Zuma se skuld by Standard Bank, Nedbank en Wesbank wat in Augustus 2001 meer as R800 000 beloop het, asook R250 000 wat hy in 2003 aan 'n ontwikkelaar geskuld het, is sover Shaik weet nou alles gedelg.

Dít kom nadat Van der Walt vroeër getuig het Zuma is nie in staat om sy skuld te delg met die salaris wat hy verdien nie.

Die forensiese ouditeur het vroeër ook getuig Shaik en sy maatskappye het aangehou om betalings ten bate van Zuma te doen, ondanks die feit dat Nkobi by tye tegnies insolvent was.

Hierop het Van Zyl aangevoer die betalings ten bate van Zuma het op die meeste 2% van die groep se jaarlikse omset beloop, wat tussen 1997 en 2002 van R3 miljoen tot meer as R23 miljoen gestyg het.

Van Zyl het Van der Walt gister in-diepte ondervra oor Nkobi se beweerde afskryf van R1,2 miljoen se "ontwikkelingskoste" vir kaartrybewyse in 1999, waarvan R290 000 glo aan Zuma betaal is. Dit hou verband met die bedrogklag.

Volgens Van Zyl sal Shaik getuig dat mnr. Colin Isaacs, die groep se geoktrooieerde rekenmeester, ander Nkobi-rekenmeesters en die ouditeursfirma David, Strachen & Taylor "ten volle verantwoordelik" was vir die finansiële state en dat hy hom op hulle verlaat het.

Van der Walt het by sy standpunt gebly dat Shaik, as direkteur wat die jaarlikse state onderteken, finale verantwoordelikheid moet aanvaar vir die groep se geldsake.

Ouditeurs kan nie uit hul eie inskrywings in 'n maatskappy se boeke doen nie - dit moet eers met die direkteure uitgeklaar word, het Van der Walt gesê. Shaik, en nie die ouditeure nie, was die een wat baat gevind het by die afskryf van die R1,2 miljoen.

Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en Die Burger.