Shaik 'Oneties', sê Oudkollega |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-16 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Mnr. Schabir Shaik is Dinsdag deur 'n voormalige kollega beskryf as 'n onetiese sakeman, wat nie belasting betaal nie en sy rug op die armes gekeer het.
Ál waarin Shaik belangstel is om "homself" en "sekere ministers" te verryk, het mev. Celia Bester, oud-rekenmeester by Shaik se groep van maatskappye, in die hooggeregshof getuig.
"Thomas Nkobi (die voormalige ANC tesourier-generaal) se ideale word nie by die Nkobi-groep verwesenlik nie," het sy bygevoeg.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële raadgewer, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Volgens Bester het Shaik die Nkobi-groep se ideale - om agtergeblewenes op te hef en ekonomies te bemagtig - verraai. Sy "politieke konnektiwiteit" - veral met Zuma - verseker dat die Nkobi-groep kontrakte kry ten spyte van 'n tekort aan kontant en 'n gebrekkige bedryfstruktuur, het sy getuig.
Volgens Bester het sy in 1998 by Nkobi begin werk omdat Shaik sterk gevoel het oor bemagtiging en sy betrokke wou wees by die oordrag van vaardighede.
Sy is later bevorder tot hoof van die rekeninge-afdeling omdat Shaik haar glo vertrou het om die betalings, wat "twee jaar agterstallig" was, op datum te kry.
Shaik sou glo besluit watter krediteure betaal word en watter nie.
Volgens Bester was Nkobi se bankrekenings konstant oortrokke en sy het Shaik telkens daarvan bewus gemaak, "veral omdat hy nie goed was met spertye nie".
Bester het gou daarvan bewus geraak dat Shaik Zuma se finansiële adviseur is. "In gesprekke met sakemense het hy gesê hy het politieke konnektiwiteit.
"Hy het ook gesê Zuma is baie goed verbind met die ANC en bemagtigingsmaatskappye."
Adv. Billy Downer, SC, namens die staat, het Shaik se CV aan die hof voorgehou waarin hy beskryf word as Zuma se "spesiale finansiële adviseur" met 'n "wye veld van sake- en politieke verhoudings".
Bester was onbewus van die Nkobi-groep se betalings aan Zuma. Die staat beweer dit was R1,2 miljoen se bindgeld om Zuma se invloed te "koop". Sy het net geweet van betalings vir Zuma se motorpaaiemente en huur.
Volgens Bester het Zuma nie belasting op hierdie uitgawes betaal nie en Shaik het óók belasting ontduik met die beweerde herskikking van sy salaris. Volgens haar is dit nie regverdig dat "ons almal" persoonlike belasting moet betaal, maar nie regeringsleiers en die hoofde van maatskappye nie.
"Soms was hy (Shaik) geïrriteerd met Zuma weens persoonlike redes en dan het hy nie (die huur en motorpaaiemente) betaal nie. Ander maande sou hy dit weer betaal."
Volgens Bester is die Zuma-betalings uit Shaik se Nkobi-leningsrekening, wat later as "ontwikkelingskoste" afgeskryf is, gedoen. Dit was oneties, het sy getuig.
Bester het op 6 Augustus 1999 haar formele bedanking ingedien omdat sy "moeg was en gevoel het ek gaan nêrens heen nie". Sy is oortuig om langer aan te bly, maar het in Desember 1999 finaal bedank.
In 'n bedankingsbrief beskuldig Bester Shaik daarvan dat hy homself en "sekere ministers" ten koste van die Nkobi-groep en sy personeel verryk.
"Ek het by die groep aangesluit omdat ek glo in die bemagtiging en opheffing van ons armer en agtergeblewe gemeen skappe. Dit het vir my duidelik geword in die laaste jaar dat Thomas Nkobi se visie nie by Nkobi uitgevoer word nie," het Bester geskryf.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.