Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-19 Reporter: Jorisna Bonthuys

Pahad Looi DA

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-19

Reporter

Jorisna Bonthuys

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad. - Mnr. Aziz Pahad, adjunkminister van buitelandse sake, het Dinsdag die DA van politieke opportunisme beskuldig in die Schabir Shaik-hofsaak.

Volgens hom misbruik die DA dié verhoor om die beeld van adj.pres. Jacob Zuma skade te berokken sonder om dit op feite te grond.

"Ek vind dit verstommend en verrassend dat LP's so onverantwoordelik kan optree en die heiligdom van die parlement misbruik om 'n verhoor in die media te voer.

"Persoonlike sake van die adjunkpresident word by elke moontlike geleentheid bygesleep om ongegronde bewerings en suggesties verder aan te blaas.

"Geen feite word verskaf nie. Dis 'n gevaarlike klomp nonsens wat stopgesit moet word," het hy gesê.

Pahad het gereageer op 'n ledeverklaring van me. Sheila Camerer, DA-LP. Sy het gesê hoewel die DA meen die media moet die sub judice-reël in die Shaik-saak eerbiedig, dit byna onmoontlik sou wees om nie verslag te doen of kommentaar te lewer oor bewerings in getuienis wat Zuma betrek nie.

"In die woorde van Hamlet: die adjunkpresident is duidelik die spook van hierdie mediafees. Sy naam verskyn oral op die klagstaat en daar gaan nie 'n uur verby waarin sy naam nie genoem word in getuienis oor Shaik se sake nie - hetsy in bewering dat hy omgekoop is óf dat hy sy invloed uitgeoefen het.

"Die adjunkpresident, wat in die Durbanse hof deur 'n magdom regslui verteenwoordig word, sê hy is nog nooit die kans gebied om sy naam te verdedig nie. Dié aanspraak is oneerlik, aangesien hy tog bewus moet wees daarvan dat as klagtes van bedrog, korrupsie en omkopery teen hom aanhangig gemaak sou word, hy uit sy pos sou moes bedank. Die DA glo dit is wat moes gebeur het.

"Die feit dat hy nie aangekla is nie ondanks 'n prima facie-saak teen hom, wat lyk of dit daagliks sterker word vanweë die getuienis, sal sekerlik as een van die groot raaisels in die geskiedenis van ons vervolgingsdiens beskou word.

"Die adjunkpresident het hulpmiddels tot sy beskikking - as hy nie by kwaaddoennery betrek word nie, behoort hy die Nasionale Vervolgingsgesag en die betrokke media hof te sleep vir laster. Daar was ook ander stappe tot sy beskikking, insluitende om voor die Hefer-kommissie te getuig om sy naam in ere te herstel."

In die klagstaat teen Shaik word te kenne gegee dat Shaik sy verbintenis met die adjunkpresident gebruik het om Zuma te beïnvloed en om hom om te koop ter bevordering van 'n wanpenkontrak van die regering.

Met erkenning aan Jorisna Bonthuys en die Beeld.