Zuma, Shaik 'Pakket' vir Absa |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-19 |
Reporter |
Dries Liebenberg, Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - 'n Voormalige senior Absa-werknemer het dié bank se ringkoppe gewaarsku oor adj.pres. Jacob Zuma se treurige geldsake, maar sy vermanings het glo op dowe ore geval.
As dit van hom afgehang het, het nie Zuma óf mnr. Schabir Shaik ooit kliënte van Absa se pri vate bank geword nie, het mnr. Ian MacLeod gister in die hooggeregshof getuig.
Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
MacLeod, wat destyds kredietbestuurder van Absa se private bank in Durban was, het gesê weens Zuma se gereelde oorskryding van sy kredietlimiet het sy aansoek "nie eens oor die eerste hekkie gekom nie".
"Maar die besluit (om Zuma en Shaik as private kliënte te aanvaar), is by die hoofkantoor in Johannesburg geneem," het MacLeod gesê.
Adv. Billy Downer, SC, hoofaanklaer, het dit aan hom gestel dat sy aanbeveling deur die Absa-base verwerp is.
Volgens MacLeod, wat nou vir Nedbank werk, was dit só.
Mev. Brenda Madgwick, destydse private bankier in Durban, het eergister getuig mnr. Nallie Bosman, Absa se voormalige uitvoerende hoof, het Zuma oorspronklik genader om 'n kliënt te word.
Hy was glo "invloedryk" en 'n "strategiese" kliënt vir Absa.
In 'n e-pos wat mnr. John Dwyer, voormalige hoof van die private bank in Durban, aan MacLeod gestuur het, skryf hy Zuma en Shaik se verhouding met die bank is van 'n "sensitiewe politieke aard".
Op 'n vraag deur Downer wat Dwyer daarmee bedoel het, het MacLeod gesê Absa wou meer sake met swartbemagtigingsmaatskappye doen.
Die nasionale regering het glo reeds by Absa gebank en die bank wou ook sy belange op provinsiale vlak uitbrei.
"Ons het Shaik en Zuma as 'n pakket gesien. As ons die een aanvaar, vat ons albei," het MacLeod gesê.
Hy het aan die hof verduidelik dat Absa se private bank 'n uiters eksklusiewe instelling met hoë vereistes vir toelating is.
Volgens hom moet potensiële kliënte geen groot skuld hê nie, minstens R5 miljoen kan belê en oor voldoende finansiële sekuriteit beskik.
Luidens Zuma se aansoek sou hy pensioengeld van R5 miljoen in 2004 ontvang, maar weens Zuma se swak hantering van sy geldsake het MacLeod nie eens sover gekom om hierdie moontlike inkomste te staaf nie. Albei het hul kredietlimiete oorskry en is beskou as "vlak 4-kliënte", wat beteken hulle sou 'n hoë risiko vir Absa inhou. MacLeod het soos Dwyer en Madgwick getuig die beweerde wentelkredietooreenkoms van R2 miljoen tussen Zuma en Shaik is nie onder bates verklaar in Shaik se aansoek nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en die Beeld.