Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-01-12 Reporter: Willem Jordaan Reporter:

Parlement 'Moet ook Kontrak Ondersoek'

 

Publication 

Die Burger

Date

2005-01-12

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad. - Die parlement moet self ook ondersoek doen na bewerings dat die ouditeur-generaal (OG) geswig het onder regeringsdruk in verband met die regering se omstrede wapenkontrak, het die DA gister gesê.

Nadat dié party pres. Thabo Mbeki eergister versoek het om 'n kommissie van ondersoek na die aangeleentheid aan te stel, het die party ook gevra dat 'n ad hoc-komitee van die parlement na die saak kyk.

Mnr. Eddie Trent, DA-woordvoerder oor openbare rekeninge, het gister gesê hy het die speaker, me. Baleka Mbete, gevra dat ondersoek gedoen word na dié bewerings:

Die OG, mnr. Shauket Fakie, het ná 'n vergadering met Mbeki byvoegings gemaak in die finale verslag wat nie in sy voorlopige verslag verskyn het nie. Dít behels onder meer 'n verklaring dat daar geen gebreke in die regering se kontrakposisie was nie.

Besware van senior weermagoffisiere teen die aankoop van Hawk- en Gripen-vegvliegtuie het in die voorlopige verslag verskyn, maar nie in die finale weergawe nie.

Afwykings van die ooreengekome tenderprosedure is óf onderbeklemtoon óf heeltemal uit die finale verslag gelaat.

Notules van vergaderings, verslae oor die intimidasie van amptenare en ander besonderhede is ook uit die OG se finale verslag weggelaat.

Trent meen die OG moet ook verduidelik waarom hy slegs bereid was om die voorlopige weergawes van sy verslag bekend te maak nadat die Pretoriase hooggeregshof beslis het dat hy hom aan minagting van die hof sal skuldig maak as hy dit nie doen nie.

Die DA wil verder 'n verduideliking hê oor waarom hy 'n bitsige aanval op drie DA-LP's gedoen het nadat hulle te kenne gegee het dat hy veranderinge aan die voorlopige verslag aangebring het.

"As al die bewerings waar is, beteken dit hy het die parlement doelbewus mislei," het Trent gesê.

'n Verdere beroep op die parlement om die bewerings oor wysigings aan die OG se verslag te ondersoek, is gister deur me. Judith February van Idasa gedoen.

Sy skryf in 'n artikel in Business Day die parlement moet nou die politieke wil aan die dag lê om die regering en die OG oor die jongste bewerings tot verantwoording te roep. Sy meen dit is goed dat die OG se voorlopige verslae met behulp van die Wet op Toegang tot Inligting bekom kon word, maar dit is net die eerste stap.

"Vier jaar ná die sluit van die wapenkontrak is dit nog nie te laat om dié saak finaal ter ruste te lê nie," skryf sy.

Mnr. Luphumzo Kebeni, die speaker se woordvoerder, het by navraag gesê geen besluit is nog geneem of die parlementêre komitee die bewerings sal ondersoek nie.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.