Publication: Beeld Issued: Date: 2005-03-01 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

'Hoekom op My en Zuma Pik?'

 

Publication 

Beeld

Date

2005-03-01

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Waarom word net hy en adj.pres. Jacob Zuma oor die kole gehaal, terwyl swart sakelui gereeld saam met pres. Thabo Mbeki in sy private vliegtuig reis?

Dit was Dinsdag mnr. Schabir Shaik, wat later na homself as die "pionier van bemagtiging in Suid-Afrika" verwys het, se antwoord op die staat se bewerings dat hy Zuma se invloed "gekoop" het om staatskontrakte vir sy Nkobi-groep te verseker.

"Waarom sê niemand iets dáároor nie?" wou Shaik by adv. Billy Downer, SC, hoofaanklaer, weet met verwysing na sy bewerings oor Mbeki. Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Shaik het die bewerings gemaak nadat Downer dit onder kruisverhoor aan hom gestel het dat Zuma hom nie sou kon help as hy nie 'n politikus was nie. Shaik hou vol die betalings wat hy deur die jare aan of namens Zuma gemaak het, lenings aan 'n "goeie vriend" was.

Downer het gehamer op 'n vergadering in 1998 in Londen toe Zuma die base van die Franse wapenfirma Thomson-CSF oortuig het Shaik is 'n geskikte swartbemagtigingsvennoot. Shaik beweer Mbeki en oudpres. Nelson Mandela het aan Thomson-CSF te kenne gegee dat hy nie die regte vennoot vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is nie, omdat hy nie 'n swart Afrikaan is nie.

Ná Zuma se ingryping het Shaik se Nkobi-groep weer indirek 'n aandeelhouer van African Defence Systems (ADS) geword.

ADS het laat in 1998 die regering se R1,3 miljard-kontrak gekry vir die verskaffing van gevegsuites vir die vloot se nuwe korvette.

Shaik het Dinsdag gesê Zuma het hom gehelp, omdat hy sy vriend was.

"Sou minister (Makhenkesi) Stofile jou ook gehelp het?" wou Downer weet.

"O ja, hy is steeds my vriend," het Shaik gesê.

Volgens Shaik kon hy vir minister Jeff Radebe of oudminister Mac Maharaj ook gevra het om vir hom in die bresse te tree. "Die probleem is dat jy vir mnr. Zuma betaal het," het Downer gesê.

Shaik het die staat Dinsdag verbaas deur te sê hy weet nie of daar wetgewing bestaan wat ministers verhoed om vir 'n sekere maatskappy op te tree nie.

"Is dit nie die korrupsiewet nie?" wou Downer weet.

"Ek is nie vertroud met daardie wet nie, u edele," het Shaik geantwoord.

Nadat Downer die Korrupsiewet van 1992 kortliks verduidelik het, het hy Shaik ook daarop gewys dat die Grondwet van regeringsamptenare vereis om nie betrokke te raak by private sake waarin hulle 'n aandeel het nie.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.